Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Alles is moontlik as jy glo - 10 Oktober 2013

Nina Smit

“As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

~ Markus 9:22-24

Die storie van die mismoedige pa wat sy siek seun as laaste uitweg na Jesus bring om te kyk of Hy hulle nie dálk sal kan help nie, is een van my gunsteling Bybelverhale. Teen die tyd dat die pa by Jesus uitkom, is sy geloof dat sy seun gesond sal kan word al tot die uiterste beproef. Niemand kon die bose gees uit sy seun dryf nie. Nou nader hy Jesus met die huiwerige versoek: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “As U iets kan doen, sê jy,” antwoord Jesus hom. “Vir die een wat glo, kan alles.” En dan praat die pa uit sy hart uit: “Ek glo! Help my in my ongeloof.” Vir Jesus is die pa se openhartige belydenis genoeg, en op sy bevel gaan die gees uit die seun uit.

Die dissipels wil van Jesus weet waarom húlle dit nie kon regkry om die bose gees uit die seun te dryf nie. “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek julle nog verdra?” wil Jesus van húlle weet (Markus 9:19). Dan vertel Hy hulle dat die gees wat van die seun besit geneem het, net met gebed uitgedryf kan word, terwyl húlle dit in hul eie krag probeer doen het. Dit is geloof in Gód wat ons nodig het.

Hemelse Vader, ek sukkel ook soms om in alle omstandighede te bly glo, help my asseblief waar ek nog ongelowig is. Amen

Previous article: Twee soorte geloof - 11 October 2013 Prev Next article: Wag op die wederkoms - 9 Oktober 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.