Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wag op die wederkoms - 9 Oktober 2013

Nina Smit

Wag dan geduldig broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.~ Jakobus 5:7-8

Ná Jesus se hemelvaart het die Christene sy wederkoms binnekort verwag. Hulle het gemeen dat dit net ’n paar jaar sou wees voordat Hy sy kinders sou kom haal. Maar die jare het verbygegaan sónder dat Hy gekom het. Dit het die Christene moedeloos gemaak, veral omdat hulle op daardie tydstip wreed vervolg is. In sy brief maan Jakobus dat hulle geduldig moet wag totdat die Here kom, net soos ’n boer op sy oes wag. Die oes moet op presies die regte tyd ingesamel word; net so sal Jesus se wederkoms op presies die regte tyd plaasvind.

My ma was baie siek die laaste jaar van haar lewe. Sy wou herhaaldelik by my weet waarom die Here haar nie maar kom haal nie. Alhoewel sy nie meer goed kon sien en hoor nie, was dit vir ons goed om haar by ons te hê, want ons het geweet dat sy gedurig besig was om vir ons te bid. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer sien jy uit na Jesus se wederkoms. Dit help egter nie om die tyd van die wederkoms te wil aanhelp nie; die geheim is om op die regte manier daarop te wag. Sorg net dat jy gereed sal wees as God jou dalk vandag kom haal.

Here Jesus, leer my om op die regte manier op U wederkoms te wag, deur my lewe te vul met dié dinge wat ewigheidswaarde het. Amen

Previous article: Alles is moontlik as jy glo - 10 Oktober 2013 Prev Next article: Leer om te wag - 8 Oktober 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.