Leer om te wag - 8 Oktober 2013
Nina Smit
Ek wag op die Here, meer as wagte op die môre wag. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.
~ Psalm 130:6-7
Wanneer jy op God wag en niks gebeur nie, kan dit jou ook angstig en gespanne maak. In Psalm 130 en 131 vertel die psalmdigter van sy bereidheid om op God te wag, en die rustigheid wat dit vir hom bring. Ons raak gewoonlik gespanne wanneer ons moet wag. Dan wonder ons of God ooit gaan antwoord. Luister gerus na die profeet Sefanja se raad: “Wag in stilte op die Here God!” (Sefanja 1:7). Stiltetye (beide die tye wanneer ons voor God stil raak en die tye wat God swyg) is daar sodat ons spesiaal tyd kan maak om op God te wag; om fyn te luister na sy stem. Nie net soggens of saans soos die psalmdigters nie, maar die hele dag deur.
Om te wag het ’n mens geduld nodig. Geduld kom nooit vanself nie, maar ’n mens kan léér om geduldiger te wees; om gewillig te wees om te wag. Wanneer óns wag, is God besig met ons. Hy bring ons met Hom in pas. Hy berei ons in die wagperiode voor vir wat Hy vir ons beplan, en wat God beplan, is altyd positief vir sy kinders. Hy versterk ons geloof; Hy kry ons aandag en sif ons motiewe. Besluit sommer nou om in die toekoms meer dikwels stil te word en op God te wag.
Here, ek is jammer dat ek so haastig is, dat ek nie wíl wag nie. Gee my asseblief meer geduld en maak my bereid om op U te wag. Amen