Liefde wat sy doel bereik - 7 Oktober 2013
Nina Smit
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.
~ 1 Johannes 4:12-14
Dit is eers wanneer mense mekaar liefhet, dat God se onveranderlike liefde sónder voorwaardes sy doel in hul lewens bereik. Die bewys van ons liefde vir God kry ons in die manier waarop ons liefde vir ánder mense in ons dade sigbaar word. Deur ons liefdesdade wys ons vir ander hoe die God van liefde lyk. In 1 Johannes 2:5 skryf Johannes dat God se liefde sy doel bereik wanneer ons sy Woord gehoorsaam. En hierdie Woord vrá van jou om ander mense lief te hê. Indien jy gehoorsaam wil wees, sal jy die liefdesgebod moet nakom!
Wanneer jy ander mense liefhet, bly God deur sy Gees in jou en jy in Hom. En die Heilige Gees maak dit vir jou moontlik, nie net om ander mense so lief te hê soos wat God jou het nie, maar ook om aan ander die boodskap uit te dra dat God sy Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Moenie langer aarsel nie. Lewe so dat God se liefde in jou lewe sy ware doel sal bereik: om na ander uit te reik en Jesus se Blye Boodskap met hulle te deel.
Vader, dis is my hartewens dat u liefde sy doel in mý lewe sal bereik. Help my om lief te hê met die liefde van Jesus en om daardie liefdesboodskap met my lewe uit te dra. Amen