Toewyding vra oefening - 4 Oktober 2013
Nina Smit
Oefen jou om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.
~ 1 Timoteus 4:7-8
Paulus spel dit hier vir sy geestelike seun, Timoteus, duidelik uit hoe hy dit kan regkry om in toewyding aan God te leef. Ware toewyding kom nie sommer vanself nie, dit vra oefening! En hierdie geestelike oefening het nog veel meer waarde as liggaamlike oefening, aldus Paulus.
In die tyd waarin ons leef, word baie klem daarop gelê dat ons liggaamlik gesond moet wees. Mense word aangemoedig om gesond te eet en genoeg oefening te kry. Dalk is genoeg oefening vir jou ook belangrik, en dis goed so. Maar, soos Timoteus, moet jy seker maak dat jy ook geestelike oefening sal kry deur jou in te stem daarop om in toewyding aan God te lewe. Op die ou end gaan dit vir jou ook veel meer voordele inhou as jou daaglikse oefensessies. Dit gaan van jou vra om weg te bly van dié dinge wat jou verhouding met God benadeel; om in jou besige dagprogram genoeg tyd vir God in te ruim en getrou indiepte Bybelstudie te doen. Dan sal die belofte in ons teksvers van vandag vir jou waar word: jy sal nou én in die toekoms die vrugte van jou toewyding pluk!
Vader, ek kom bely dat ek nog so baie tyd afstaan aan dinge wat nie werklik belangrik is nie. Ek wil van nou af elke dag spesiaal oefen om meer toegewy aan U te wees. Amen