Leef in die Gees - 3 Oktober 2013
Nina Smit
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
~ Galasiërs 5:16, 25
Om met God in pas te wees, sal beteken dat jy gewillig moet wees om die beheer van jou lewe aan die Heilige Gees oor te gee. Net dan sal jy daarin kan slaag om nie aan jou sondige natuur toe te gee en te lewe soos jý wil nie. Iemand wat deur die Gees lewe, laat die Gees toe om hom daagliks te lei, so ’n persoon luister na én gehoorsaam die stem van die Gees in sy lewe. “Om in die Gees te leef is om op die rand van ’n wonder te leef,” skryf dr Coenie Burger.
Word jóú leefstyl al deur die Heilige Gees bepaal? Daar is ’n baie maklike toets wat jy kan doen om dit uit te vind. Indien dit van jou waar is, sal die vrug van die Gees in jou lewe raakgesien kan word. In Galasiërs 5:22-23 gee Paulus vir die gemeente in Galasië ’n lys hiervan. Gaan lees hierdie lys noukeurig en vra jou dan af of God se liefde, vreugde en vrede in jou lewe gesien kan word; of jy geduldig, vriendelik, goedhartig, getrou, nederig, en selfbeheerd teenoor álle mense optree. As daar nog dele van die vrug in jou eie lewe kortkom, vra dat God hierdie eienskappe vir jou sal gee, sodat almal sal kan sien dat jóú lewe deur die Heilige Gees bestuur word.
Heilige Gees, ek wil van vandag af graag my hele lewe onder u bestuur plaas. Wys vir my watter eienskappe ek nog kortkom. Amen