BREEK UIT EN LÉÉF... ’n 100 grade Celsius lewe. - 5 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT... EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
BREEK UIT EN LÉÉF... ’n 100 grade Celsius lewe.
Deur Benescke Janse van Rensburg
Hier is ’n uittreksel uit ’n leser se epos wat ek na gister se dagstukkie ontvang het: “Benescke, jy sê God is oral, maar wat kan ’n mens doen as Hy van jou vergeet het? Die Bybel sê: ‘Julle het nie omdat julle nie bid nie,’ maar wat as ’n mens bid en God jou nie antwoord nie? Die Bybel sê ook: ‘My God sal in al julle behoeftes ryklik voorsien, volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus,’ maar is dit net vir sekere mense bedoel? Help asseblief.”
Sodra ’n mens ’n krisis in jou lewe beleef of vir ’n geruime tyd lank oor ’n saak bid en nie ’n deurbraak beleef nie, is die versoeking daar om te begin wonder of God van jou vergeet het en/of hy net sekere mense se gebede verhoor. Die waarheid is egter dat God nie ’n aannemer van persoon is nie. Hy is vir ons almal ewe lief en Hy het vir ons elkeen planne van voorspoed en nie teëspoed nie.
Dus, as jy vandag soos bogenoemde leser mismoedig voel, wil ek jou bemoedig met die een grade reël. Het jy al daarvan gehoor?
Op 99ºC is water warm – baie warm. Tog, dit moet 100ºC bereik om te begin kook en stoom vry te laat. Hierdie stoom kan ’n lokomotief, fabrieke en skepe aandryf. Warm water kan dit nie doen nie. Dit is die 1% ekstra wat die verskil maak.
In ons lewens kan ons maklik in die strik trap om op 99ºC te begin moed opgee. Dink byvoorbeeld aan hoe jy voel as jy al vir ’n geruime tyd bid vir ’n werksgeleentheid, ’n huweliksmaat, ’n baba, genesing van ’n siekte, vir ’n geliefde om tot bekering te kom of vir jou huwelik om te herstel – sonder sukses. Die water is warm, maar die stoom bly weg. Dit is hier waar jy die karaktertoets moet slaag.
Job en Josef was ook eens daar. Job op die ashoop, gestroop van al sy besittings, die pyn van die verlies van sy kinders en sere wat sy liggaam oortrek. Josef in ’n vuil, verlate tronk in Egipte sonder enige hoop om ooit vrygelaat te word. Beide mans het baie vrae oor hulle omstandighede gehad. Tog het nie een van hulle hul rûe op God gekeer nie. Hulle het aangehou glo dat Hy in beheer van hulle lewens was. En juis omdat hulle die karaktertoets geslaag het, het God in ’n oogwink hulle situasies omgedraai. Job het dubbeld sy besittings teruggekry en Josef is as onderkoning van Egipte aangestel. Hulle het beleef hoe die 99ºC, 100ºC word – omdat hulle aangehou glo het.
Ook Daniel het vir ’n deurbraak gebid – later gevas en gebid. In Daniel 10:12-13 lees ons dat God sê dat Hy reeds op dag 1 geantwoord het, maar dat dit 21 dae lank geneem het omdat ’n demoniese mag die antwoord verhoed het. Daniel se vas en aanhoudende gebed het die deurbraak bewerkstellig. In Mattheus 17:21 sê Jesus ook dat sommige deurbrake net met vas en gebed kom.
God is in beheer van ons elkeen se lewens. Luister maar na sy woorde in Jesaja 49:8: “Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor, op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help.”
Kom ons slaag die karaktertoets en hou aan vertrou dat God in beheer van ons lewens is. Mens weet nooit, vandag mag dalk net die dag wees wat jy die stoom in jou lewe begin beleef! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U nooit van my sal vergeet nie. Help my om aan te hou vertrou selfs al neem dit langer vir my om ’n deurbraak te beleef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.