Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jou lewe is ʼn lewende testament - 30 April 2014

Hennie Symington

 

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Romeine 8:28.

Elkeen van ons laat sekere ontasbare erfstukke aan ons nageslag na. Hierdie erfstukke is meer as net ʼn lysie van goeie en slegte gewoontes en dade wat soos bates en laste op jou boekie staan. Dis ʼn opgawe van ʼn lewe wat gevorm is deur alles wat jy as mens beleef het. Dit is ʼn ongeskrewe dokument waarin daar opgeteken staan hoe jy met die lewe self omgegaan het. Dis ʼn rekord van soveel blye of hartseer dae waar jy ten spyte van verlies en pyn staande gebly het. Dis ʼn batelys van kosbare kleinnode wat jou herinner aan ʼn lewe wat voluit geleef is foute en al.

Soms voel dit asof jy ʼn bankkrotboedel nalaat as jy dink aan die kere wat jy jouself en ander gefaal het. Gelukkig is jou nalatenskap ʼn lewende testament waaraan jy steeds kan verander. God het nog nie die laaste woord oor jou boedel gespreek nie. En Hy het ʼn handleiding aan ons nagelaat met ʼn boodskap wat sê: “Soek eers die koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word.” Dit wil vir jou sê: By God is daar geen sprake van ʼn bankkrotboedel nie want Hy het reeds jou boedel beredder en die belasting betaal. Dit wil vir jou sê, as jy ʼn visie van die hemel in jou siel ronddra, ontvang jy ʼn blik op die ewigheid. ʼn Ryker erfenis as dit kan niemand jou bied nie.

Gebed: Here, maak my dankbaar vir soveel duisend dae wat ek op aarde het om my testament te skryf. Dankie dat U alles wat daarin staan met u genade omhul. Amen

Previous article: IS JY DANKBAAR? - 2 Mei 2014 Prev Next article: Jou dae is getel! - 29 April 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.