IS JY DANKBAAR? - 2 Mei 2014
HUIDIGE TEMA: Word weer dankbaar (Waarvoor in jou lewe is jy dankbaar? Het jy dalk onlangs ’n deurbraak beleef? Of ’n antwoord op jou gebede? Deel gerus jou gedagtes met ons by
Deur Benescke Janse van Rensburg
Daar was tien van hulle. Tien mans wat weens ’n ongeneeslike velsiekte uit die gemeenskap verban is. Hulle moes hul huise, families en toekomsdrome agterlaat vir ’n lewe van isolasie. Dít was immers jou voorland sou jy met melaatsheid gediagnoseer word.
Die nuus dat Jesus verby hulle omgewing sou reis, het hierdie mans met hoop gevul. Sou Hy hulle dalk kon genees? Desperaat het hulle tot naby aan die pad gehardloop waar Jesus en sy dissipels verby gereis het. Daar het hulle gaan staan en hard na Hom uitgeroep: “Jesus, groot Leermeester, kry ons asseblief tog jammer!” Van die mans het selfs pleitend in die stof gekniel met trane wat oor hulle wange vloei. Hulle het geweet dat Jesus hulle laaste hoop was om ooit weer ’n mate van normaliteit in hulle lewens te beleef. Sou Hy aan hulle genade bewys?
Jesus het na die mans gekyk, hulle jammer gekry en geantwoord: “Gaan dadelik na die priester toe. Laat hy julle ondersoek en vir julle ’n sertifikaat gee as bewys dat julle gesond is.” Op pad na die priester het die mans se melaatsheid verdwyn! ’n Draaipunt oomblik. ’n Hersteloomblik. ’n Oomblik van hernude hoop. Al tien mans is genees, tog het net een van hulle teruggedraai om Jesus vir hierdie wonderwerkgenesing te gaan bedank.
In Efesiërs 5:20 lees ons: “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.”
As jy terugdink oor die afgelope jaar, watter gebede van jou is beantwoord? Waar het jy deurbrake beleef? In jou finansies? Is jou huwelik herstel? Is jy eindelik swanger? Is jy genees van ’n siekte? Of het jy dalk na ’n lang soektog eindelik werk gekry? Het jy God spesifiek daarvoor bedank of het jy soos die nege mans blindelings met jou lewe voortgegaan nadat jy jou wonderwerk beleef het?
Wanneer ons met ’n dankbaarheidsingesteldheid begin leef, word dit makliker om Efesiërs 5:20 se woorde uit te leef. Ons sal God dank in die goeie, maar ook die stormagtige tye in ons lewens met die wete dat Hy steeds in beheer bly. Hy ken die toekoms en kan ook vir ons daardie draaipunt oomblik, ’n hersteloomblik en ’n oomblik van hernude hoop in ’n oogwink kom bewerkstellig.
Kom ons bly dus dankbaar en hou aan om Hom te dank sodat ons ook soos daardie een man, die Samaritaan wat na Jesus teruggedraai het, kan hoor hoe Hy sê: “Jou geloof het jou gered.” Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U elke gebed van my hoor en op die regte tyd en manier beantwoord. Vergewe my dat ek ook soms soos die nege mans in bogenoemde storie blindelings met my lewe voortgaan en vergeet om U te bedank vir my deurbrake wat ek weet net U kan bewerkstellig. Help my om nuut dankbaar te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Waarvoor is jy dankbaar? Deel gerus jou gedagtes met ons by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Hier is waarvoor drie lesers dankbaar is:- Marjorie Bosman: My kinders. My pragtige man. My stukkie hemel, genaamd my huis. Ek is net dankbaar dat ek leef. Ons het immers net een geleentheid om om die son te reis. Kom ons maak die beste daarvan.
- Willie Beukes: Dat ons die kind kon kry wat oppad is. So dankbaar daarvoor!
- Adele Foster: Vir my gesondheid, my familie, my pragtige babadogtertjie, maar meeste van alles dat ek kan bid tot God en met Hom kan praat oor enigiets.