Sy groot geskenk aan ons - 5 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Hy moet meer word en ek minder. Johannes 3:30 (1983-vertaling)
Die Fariseër, Nikodemus, kom in die nag na Jesus toe, dalk omdat hy nie wou hê dat iemand hom moet sien nie. Jesus vertel vir Nikodemus iets van die wonder wat gebeur wanneer God jou deur die Heilige Gees van bo af nuut maak of herskep (opnuut gebore) en jy die koninkryk van die hemel kan sien. Dit is interessant om op te let hoe lig en duisternis, dag en nag, blindheid en om te kan sien, in hierdie verhaal teenoor mekaar staan.
Jesus sê dan hierdie bekende woorde aan Nikodemus “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (v16). Ons ken hierdie versie so goed dat ons dit dalk nie meer hoor nie. Dink net daaraan dat die Almagtige God van Hemel en aarde, jou so lief het dat hy die kosbaarste wat Hy het opoffer om jou te red. As jy dit besef, verstaan jy iets van God se hart, dan verander jou eie perspektief, hart en dade ook.
Johannes die doper het iets van hierdie groter perspektief verstaan. Sy volgelinge kom vertel hom dat Jesus (of sy dissipels) ook mense op die platteland van Judea doop en dat almal na Hom toe gaan. Dit maak Johannes die doper nie jaloers of afgunstig nie, maar vul hom met vreugde (v29). Hy sien homself as die “vriend van die bruidegom” wat bly is as hy die stem van die bruidegom hoor. Hy weet dat Jesus die gestuurde is. Johannes die doper spreek iets van hierdie regte gesindheid uit met die woorde: Hy moet meer word en ek minder.
Ons is so bevoorreg om nog meer van Jesus se ware identiteit te kan ken as wat Nikodemus en selfs Johannes die doper op daardie stadium kon besef. Ons as gelowiges kan die wonder ervaar dat God ons van bo af herskep deur sy Gees. Ons het ‘n groter perspektief wat verby die grense van hierdie wêreld strek. Ons kan saam met Johannes die doper getuig: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.
Gebed: Vader, baie dankie dat U my so liefhet. Dankie dat U my deur Jesus Christus verlos het van die sonde en die dood. Dankie dat U my herskep tot nuwe mens deur die werking van die Heilige Gees. Help my asseblief om verby die donker omstandighede te kyk en iets van u Koninkryk te kan sien. Amen