Lewende water - 6 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Johannes 4:10 (1983-vertaling)
Die Samaritane was in Jesus se tyd op aarde deur die Jode as “basters” geklassifiseer. Die Jode het neergesien op hierdie nasate van die 10 noordelike stamme van Israel omdat hulle met die ander volke rondom hulle vermeng het. Die Jode het hulle ook soms “die honde” genoem. Jode het daarom nie graag met die Samaritane gepraat nie en allermins nie ‘n Joodse man met ‘n Samaritaanse vrou nie. Jesus se optrede teenoor die Samaritaanse vrou is dus vreemd vir sy dissipels (v27). Nie te min bemoei Hy Hom egter met hierdie vrou wat boonop ‘n losbandige lewe gelei het (v18). Hy benader haar in vandag se terme op ‘n pastorale manier, deur haar vrae te vra en te lei tot ander insigte.
Water was so belangrik vir lewe in daardie tyd. Jesus vertel haar dat daar iets soos “lewende water” is wat in jou opborrel en die ewige lewe gee. Al verstaan sy nie heeltemal wat Hy bedoel nie, besef sy dat hierdie man meer is as wat sy aanvanklik gedink het. Die geheimenis van sy identiteit bly vir haar verborge, tot Jesus in vers 26 sê “Dit is Ek, Ek wat met jou praat”. Deur haar getuienis kom baie van die Samaritane in die dorp tot geloof in Jesus as die Messias en Verlosser van die wêreld (v42).
Na hierdie gebeure gaan Jesus terug Galilea toe en hy genees die siek kind van ‘n regeringsamptenaar deur bloot te sê: “Gaan maar huis toe jou kind lewe”.
Dalk dink jy soms dat jy nie goed genoeg is dat God met jou bemoeienis sal maak nie. Jy het dalk al so aangehou om sonde te doen dat jy voel daar is nie omdraai kans nie. Miskien hang mense ook etikette om jou nek en noem jou allerhande name? Onthou dan dat Jesus na die wêreld toe gekom het om die grens tussen God en die mens en mense met mekaar te oorskry. Hy kom herstel die verhoudings wat gebreek is deur sonde en selfsug. Kom ons gaan hanteer ander mense ook met respek en liefde, in die wete dat God ons almal oneindig liefhet.
Gebed: O Heer, help my asseblief om te onthou dat U die bron van lewende water is. Gee my die geloof en krag om te getuig van u liefde. Laat ek asseblief ook met liefde en respek teenoor ander mense optree, soos wat U aan my gedoen het. Amen