Jesus is die Here - 7 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. Johannes 5:24
Jesus genees ‘n man op die Sabbat en hy noem God sy eie Vader (v18). Die Jode is baie ontsteld toe hulle dit sien en hoor. Hoe kan hierdie man sê dat hy God se Seun is? Hy stel homself dan aan God gelyk! Jesus sê dat God hom gestuur het om te oordeel oor almal, maar dat die wat luister na wat Hy sê en in God glo wat Hom gestuur het, die ewige lewe het. Hulle het al reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
Om ‘n gelowige te wees beteken dat ons ook eendag sal opstaan uit die dood en vir ewig saam met God sal lewe, maar ons geloof het nie slegs waarde vir eendag nie. Jesus sê ons het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. Ons verhouding met God verander nou al reeds die werklikheid waarin ons leef. Ons kyk anders, sien meer en leef anders as wat ons sonder God sou lewe. Deur Jesus Christus is ons nuwe mense wat nie vasgevang is in die harde werklikhede van tyd en ruimte nie. Ons is deel van die Koninkryk van God wat verby die grense van ruimte en tyd strek en tot in ewigheid sal bestaan.
Dit is nie altyd so maklik en eenvoudig om hierdie groter perspektief te handhaaf nie, soms druk die lewe ons so vas, dat ons begin twyfel. Juis in sulke omstandighede besef ons hoe kosbaar God se Woord is. Hier kan ons weer perspektief en hoop vind. In sy Woord vind ons die krag deur die leiding van die Heilige Gees om weer voluit te leef en te verkondig dat Jesus die Here is!
Gebed: Here, ek worstel soms so met my omstandighede dat ek sukkel om U raak te sien. Help my tog om vas te hou aan u Woord en u beloftes. Dankie dat ek nou al reeds die krag van u groot liefde kan ervaar en kan uitleef. Help my tog om verby my omstandighede te kyk en iets van u grootheid te ervaar. Amen