Na wie toe sal ons gaan? - 8 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” Johannes 6: 68-69
Jesus vermeerder die brood en vis en later loop Hy ook op die see. Hierdie wonders laat mense na Hom toe stroom, hulle wil Hom volg uit nuuskierigheid. Hulle wil graag hê dat Hy nog wonders sal doen om hulle te beïndruk.
Jesus verduidelik dat daar meer in die lewe is as net die fisiese voedsel wat vergaan, meer om voor te werk en te lewe (v27). Hy self is die spreekwoordelike brood wat uit die hemel kom. Hy gee sy liggaam sodat elkeen kan lewe. Die mense verstaan nie en hou ook nie van die manier waarop Jesus praat nie. Hulle wil nie hoor dat Hy geoffer gaan word en dat hulle hom moet “eet” (aan Hom deel moet kry) nie. Baie van hulle draai om en gaan huis toe. Jesus is nie wat hulle verwag het nie, Hy wil dan nie eers nog ‘n wonder doen nie en Hy praat oor dinge wat hulle nie verstaan nie.
Die twaalf apostels by egter agter en as Jesus vra hoekom hulle nie ook weggaan nie, antwoord Petrus met hierdie woorde wat hy dalk self nog nie mooi verstaan het nie: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat die ewige lewe gee...
Dalk is jy ook bekommerd oor fisieke behoeftes: kos, water, klere, skuiling, veiligheid. Dalk hoop jy ook op ‘n wonderwerk wat jou lewe radikaal sal verander. Kan jy ook raaksien dat die lewe oor meer as ons fisieke behoeftes gaan? Dat ons nie net moet werk om in ons materiële behoeftes te voorsien nie, maar ook vir dit wat ewigheidswaarde het. God het klaar die grootste wonderwerk laat gebeur. Hy het ons van die sonde en dood bevry toe Jesus in ons plek aan die kruis gesterf het en opgestaan het uit die dood. Hy is die brood van die lewe. Jy kan ook deur sy woorde gevoed en versterk word, kom ons gaan weer op nuut na Hom toe, nie uit nuuskierigheid of selfsug nie, maar nederig, dankbaar en afhanklik. Na wie toe sal ons gaan? Hy het die woorde wat die ewige lewe gee!
Gebed: Ons Vader, baie dankie dat U ons nie honger en naak oorlaat aan ons self nie. Dankie dat U ons deur Jesus Christus kom optel het uit die ellende van ons eie selfsug en ons geleer het dat die lewe oor baie meer gaan as materiële behoeftes. Gee ons die krag dat ons onsself sal inspan en sal werk vir dit wat ewigheidswaarde het. Dankie dat ons ook afhanklik na U toe kan kom en kan weet U voorsien vêr bo ons verwagting.Amen