Vertel aan almal wie Hy werklik is - 11 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Johannes 7:37-38
Jesus se eie broers en die Fariseërs glo nie dat hy die gestuurde van God is nie. Die Fariseërs wil hom laat doodmaak, want sy leer ontstel hulle. Jesus gaan in die geheim na die huttefees toe, maar op die laaste dag gaan leer hy die mense openlik in die tempel en roep die woorde van vers 37 hardop uit. Tog het niemand hom gevange geneem nie want “sy tyd het nog nie gekom nie”.
God is steeds in beheer, al lyk dit of die Romeinse soldate en die Joodse Fariseërs of skrifgeleerdes die mag het, is God die een wat besig is om sy plan uit te voer op die tyd en geleentheid wat Hy goedvind. Die nuwe “tyd” sou binnekort aanbreek. Jesus is die draaipunt in die geskiedenis van die mensdom. Sy dood en opstanding sou ‘n nuwe tyd inlyf wat die geskiedenis totaal verander.
Die belofte van strome lewende water wat uit jou binneste sal vloei, wys volgens Johannes na die Heilige Gees. Die Gees wat later uitgestort word op die gelowiges is die bron van lewe wat geen mens van jou kan weg neem nie. Die Heilige Gees is die Een wat jou in die dorste, moeilikste omstandighede versterk en bemoedig, sodat jy ook skaamteloos kan verkondig dat Jesus leef.
Kom ons gaan weer opnuut na die wêreld toe en vertel sonder vrees aan almal wie hierdie Jesus werklik is. Al sou ons dalk ook die gevolge van verwerping en vernedering moet ervaar, sy Gees sal ons inspireer en lei.
Gebed: Here, dankie dat u die bron van ware lewe is. Dankie dat U liefde ook my lewe deurstroom. Help my om naby U te lewe en lei my deur u Gees dat ek skaamteloos sal getuig van U grootheid en liefde. Amen