Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is u? - 12 Augustus 2014

Stephan Hoffman

Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?” Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle?Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het.  Johannes 8: 25-28

Die skrifgeleerdes en Fariseërs wil Jesus probeer vastrek, hulle bring ‘n vrou wat op owerspel betrap is na Hom toe met ‘n strikvraag: “Moses het ons beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” (v5). Jesus antwoord nie hulle vraag nie, maar skryf met sy vinger op die grond soos wat soms in ‘n regsgeding deur ‘n regter gedoen was. Dan sê Hy: Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” Hulle stap verdwaas weg, totdat sy alleen by Hom agterbly. Hy veroordeel haar ook nie, maar sê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie”.

Jesus ontmasker die skynheiligheid van die Fariseërs en skrifgeleerdes deur sy woorde en dade. Hy wys hulle daarop dat hulle nie besef wie Hy werklik is nie. Dit lei dan ook tot die vraag in vers 25 “Wie is jy?”. Hierdie vraag staan sentraal in die evangelie “Wie is Jesus?”. Ongelukkig sou mense eers na Jesus se kruisiging (verhoging) (v28) besef wie Hy werklik is.

Jesus was voor Abraham al daar, Hy is al Een wat die Vader werklik ken en openbaar. Hy is God wat mens geword het en tog erken mense nie sy ware Identiteit nie.

Kom ons gaan vra weer opnuut vir onsself die vraag “Wie is Jesus vir my?”  Kom ons leef ook dan soos verloste sondaars, nie meer gedryf deur die sonde nie, maar deur dankbare gehoorsaamheid.

Gebed: Here, help my asseblief om nie oor ander te oordeel nie, maar om te besef dat U die groot Regter is wat my vrygespreek het sonder dat ek dit verdien. Gee dat ek sal gaan en nie meer sal aanhou sondig nie, maar dankbaar en gehoorsaam sal lewe tot U eer.  Amen

Previous article: Open ons oë - 13 Augustus 2014 Prev Next article: Vertel aan almal wie Hy werklik is - 11 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.