Open ons oë - 13 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op 'n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.” Johannes 9:39
Jesus genees ‘n blinde man op ‘n Sabbat. Die Fariseërs is hoogs ontsteld dat Hy weereens die Sabbat gebruik om iemand te help. Hulle ondervra die man en later ook sy ouers. Hulle stry ook met mekaar oor wie Jesus kan wees, want sommige Fariseërs begin sê dat iemand nie hierdie wonders kan doen as hy ‘n “sondaar” is nie, maar net as God na hom luister.
Jesus ontmoet die blinde man wat nou kan sien weer later en konfronteer hom met ‘n vraag: “Glo jy in die Seun van die mens?” (Jesus het gewoonlik na homself in hierdie terme verwys). Jesus openbaar aan hierdie man wie Hy werklik is en ons lees dat die man Hom aanbid (v37-38). Dit is belangrik dat ons sal besef dat ‘n Jood geen blote mens sou aanbid nie, slegs vir God. Die feit dat die man Jesus aanbid bevestig dus dat Hy God is.
Daarna verander Jesus die definisie van blindheid, die blinde man wat raaksien wie Jesus werklik is, sien werklik en die Fariseërs wat weier om te erken wie Jesus is, is eintlik blind.
So baie keer is ons blind vir die werklikheid van God se teenwoordigheid by ons. Dan is ons soos die Fariseërs wat in die uiterlike en materiële vaskyk. Tog kan die Here ons deur die Heilige Gees help en lei, sodat ons oë sal oopgaan en ons met geestelike oë kan raaksien wie Hy is en dat Hy by ons is.
Mag God ons blindheid genees, sodat ons ook met vrymoedigheid kan getuig van hierdie wonder – dat ons werklik kan sien.
Gebed: Baie dankie Heer dat U my ook aanraak deur die werking van u Gees en deur u Woord. Dankie vir die lig wat u Woord in my lewe bring, sodat ek ook kan genees word van my geestelike blindheid en dat ek U kan sien in my lewe. Help my om met blydskap te getuig van hierdie wonder, sodat die wat nog soekend rond tas U ook kan vind. Amen