My skape luister - 14 Augustus 2014
Stephan Hoffman
My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Johannes 10: 27-28
‘n Herder het in die tyd wat Jesus op aarde was, saam met sy skape gebly en gelewe. Gewoonlik het die herder ook in die ingang na die kraal of grot waar die skape geslaap het, gelê. Roofdiere of rowers moes dus eers verby die herder kom om by die skape uit te kom. Daarom noem Jesus Homself die ingang vir die skape. Hy is die een wat die skape oppas en uitlei deur met hulle te praat. ‘n Herder het ook in daardie tyd nie agter sy skape geloop en hulle aangejaag nie, maar eerder voor hulle uitgeloop en hulle geroep. Baie keer het die skape van verskillende herders saam in dieselfde kraal geslaap, wanneer hulle herder hulle uitroep in die oggend het die skape op sy stem gereageer en agter hom aangestap, omdat hulle hom ken en vertrou en weet hy sal hulle na die beste weivelde en water lei.
Jesus belowe dat Hy ons ken, dat Hy ons die ewige lewe gee en dat niemand ons uit sy hand kan ruk nie.
Wat ‘n wonderlike beeld om ons iets van God se liefde te laat verstaan. Hy ken jou waarlik deur en deur. Al jou drome, ideale, bekommernisse en vrese ken hy. Hy roep jou ook op jou naam en hy belowe om jou uit te lei en vir jou te sorg. Niks sal jou ooit uit sy liefde kan ruk nie. Die vraag is of ons sy stem goed genoeg ken, om te luister as Hy met ons praat. Ken jy Hom so goed dat die wêreld se geraas nie sy stem kan stilmaak in jou nie? Reageer jy as Hy jou roep? Volg jy Hom waar Hy jou lei?
Mag God ons deur die Heilige Gees die krag gee, dat ons sal vertrou en sal volg waar Hy ons lei. Mag ons ook verseker lewe van sy beskerming en versorging, al is dit ook deur moeilike omstandighede heen. Mag ons weer opnuut by die groot Herder gaan skuil, want Hy is ons enigste weg tot ware lewe!
Gebed: Ons Vader, baie dankie dat ons na U toe kan kom deur Jesus Christus ons Here. Dankie dat ons in U teenwoordigheid kan ervaar hoe U ons lei en versorg. Gee tog deur u Gees aan ons leiding elke dag, sodat ons nie sal wegdwaal van U af nie. Baie dankie dat ons u stem kan ken en dat niks of niemand ons ooit uit u hand sal kan ruk nie. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.