Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hou moed - 22 Augustus 2014

Stephan Hoffman

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”  Johannes 16:33

Die dissipels sou Jesus verlaat, verloën en weghardloop tydens sy grootste tyd van lyding, maar Jesus weet dat hulle na die opstanding van Hom sal getuig. Daarom bemoedig Hy hulle om aan te hou verkondig, selfs as hulle die dood in die gesig moet staar (v2). Hulle het ook dan later die wêreld ingegaan en getrou gebly aan Jesus. Hulle het vertel van sy lewe, dade, woorde, kruisiging, opstanding, hemelvaart en dat Hy leef. Hierdie nuus het jou en my ook bereik en ons kan meer as twee duisend jaar later ook glo dat Hy ons Here en Verlosser is. Die Heilige Gees het die dissipels gehelp en gelei, sodat hulle ten spyte van hulle eie foute en tekortkominge en die wrede vervolging, tog die evangelie kon verkondig.

Jesus gebruik in vers 21 die beeld van ‘n swanger vrou, om die dissipels te bemoedig. Hy sê dat hulle ook nou hartseer en bekommerd is omdat Hy weggaan, soos ‘n vrou wat in pyn is, maar hulle sal ook verheug wees as hulle Hom weer sien, net soos die vrou as haar kindjie gebore word.

Ons het die wonderlike voorreg om die goeie nuus van Jesus te kon ontvang en te kan glo. Al is dit ook nie altyd maklik om aan te hou verkondig nie, weet ons ook dat God ons sal bystaan deur die Heilige Gees. Ons hoef nie bang te wees vir die vyandigheid van die wêreld nie, want Jesus het die wêreld klaar oorwin. Ons kan ook soos ‘n swanger vrou met verwagting uitsien na die nuwe lewe wat sal aanbreek as ons Jesus weer sien.

Gebed: Here, baie dankie dat U die goeie nuus deur die werking van die Heilige Gees en deur die verkondiging van u Woord, deur al die eeue en omstandighede, tot hier by my gebring het. Dankie dat ek in U as my Redder en Verlosser kan glo. Help my asseblief om aan U getrou te bly ten spyte van teëspoed of aanslae. Gee dat ek sal aanhou verkondig, sodat elke mens die goeie nuus kan hoor! Amen

Previous article: Leef in sy Lig - 25 Augustus 2014 Prev Next article: Ek is die wingerdstok - 21 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.