Leef in sy Lig - 25 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Johannes 17:15-17
Jesus bid vir sy dissipels, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in Hom sal kom (v20). Jesus bid dus ook hier vir jou wat glo. Hy bid dat die Vader jou nie uit die wêreld sal neem nie, want jy moet juis aan die wêreld verkondig wie Hy is, maar dat God jou van die Bose sal bewaar. Jy behoort nie aan die wêreld nie, en as jy soms ontuis voel tussen die mense van die wêreld is dit ook normaal. Jy behoort aan God deur Jesus Christus en jy is ‘n burger van sy Koninkryk wat ewig sal duur.
Jesus bid verder dat ons aan God toegewy sal wees. Ek wonder of ons nog die woord toewyding reg verstaan? Toewyding beteken dat jy absoluut lojaal en getrou sal wees, dat jy jouself (jou tyd, geld, energie, liggaam, lewe) aan God sal wy. Jy dink immers nie meer aan jouself as ‘n individu nie, maar as iemand wat een is met ander gelowiges en wat een sal wees met God deur Jesus Christus. Jy besef dat die wêreld nie om jouself draai nie, maar dat jy deel is van ‘n groter geheel wat oor God en sy eer gaan. Jy word ook nie meer gemotiveer deur jou eie selfsugtige behoeftes nie, maar deur die liefde van God.
Hierdie gebed van Jesus is so kosbaar, jy kan dit gerus weer self gaan lees en hoor hoe Jesus oor jou dink en voel. Hy wil graag hê dat jy eendag in sy heerlikheid, saam met Hom moet deel. Hy wil hê dat God se liefde ook nou in jou kan wees.
Kom ons gaan wy ons self weer opnuut aan die Here toe. Ons spandeer ons lewe aan sy diens en eer. Kom ons leef in die lig van sy Woord wat ons die waarheid leer oor wie Hy is en wie ons deur Hom is.
Mag God se liefde ook deur ons lewe sigbaar word in hierdie donker wêreld!
Gebed: Vader, dankie dat U my deur Jesus Christus aangeneem het as u kind. Help my tog om soos ‘n lig te wees in hierdie donker wêreld. Gee dat ek u Woord sal uitdra, sodat u liefde ook in almal mag wees. Ek wy my hele lewe, alles wat ek is en het, weer opnuut aan U toe. Gebruik my asseblief soos U wil. Amen