Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wat is waarheid - 26 Augustus 2014

Stephan Hoffman

 

“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was 'n rower.  Johannes 18:38-40

Jesus word gevange geneem nadat Judas Hom verraai het. In daardie koue nag word Hy eers na die Hoëpriester en later na Pilatus toe gevat. Petrus verloën Jesus drie maal deur te ontken dat hy vir Jesus ken en een van sy dissipels was.

Jesus word ondervra, geklap en verneder, dit lyk of Hy totaal uitgelewer en magteloos is, maar Jesus gaan hierdie lyding deur uit vrye wil. Hy is bereid om die lydensbeker te drink al is Hy totaal onskuldig. Jesus is Koning van die Heelal, Hy is nie ‘n aardse koning nie. Pilatus besef dat Jesus onskuldig is, hy probeer die skare oortuig om die “koning van die Jode”, soos wat hy vir Jesus noem, vry te laat, maar hulle kies om eerder die rower Barabbas se vrylating te eis.

Jesus is verlaat deur al sy vertrouelinge, hulle bly op ‘n afstand en kyk hoe Hy verneder word, hulle hardloop weg of ontken dat hulle Hom ken, uit vrees dat hulle ook dalk gevang sal word.

Ons moet versigtig wees om te oordeel oor die dissipels se reaksie. Hoeveel keer ontken ons nie ook maar met ons gedagtes, woorde en dade, dat ons Jesus ken en volg nie? Hoeveel keer het ons nie ook maar die geleentheid verby laat gaan om te getuig dat Hy die ware Koning is nie? Ons doen ook selfs partykeer wat die skare doen, deur eerder vir onsself en ons eie vryheid te kies, as om Jesus te laat heers oor ons lewe.

Jesus se liefde is so groot dat Hy bereid is om die lydensbeker in jou en my plek te drink. Hy is bereid om die pad voluit te stap. Hy gee Homself oor in die hande van sondige mense sodat Hy hulle sonde kan verlos.

Kom ons gaan leef weer met die getuienis dat Jesus ook ons Koning is. Kom ons gaan getuig weer vreesloos dat ons Hom ken en volg. Kom ons kies weer om aan God se wil gehoorsaam te wees!

Gebed: O Here, baie dankie dat U my so liefhet dat U bereid was om die lydensweg voluit te stap. Ek is so jammer daaroor dat ek U soms verloën deur my gedagtes, woorde en dade. Help my asseblief om aan U getrou te bly en vreesloos te getuig dat ek U ken en liefhet. Amen

Previous article: Sy groot liefde - 27 Augustus 2014 Prev Next article: Leef in sy Lig - 25 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.