Sy groot liefde - 27 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Johannes 19:30
Jesus word wreed gemartel. Geseling was ‘n verskriklike straf. Leer swepe met stukkies yster en been is gebruik om die arme marteling te slaan. Stukke vel en vleis is uitgeruk met elke hou wat op die liggaam geslaan en teruggetrek is. Jesus word ook belaglik gemaak, gespot, gespuug en geslaan. Daarna roep die skare harteloos uit “kruisig hom!”.
Jesus word saam met twee ander gekruisig. Hy die Koning van die Heelal laat Homself (oënskynlik magteloos) aan die kruis spyker. Jesus het in ons plek daar gehang, vir jou en my was Hy bereid om hierdie verskriklike marteling en lyding deur te gaan, totdat dit volbring was. Johannes maak dit baie duidelik dat Jesus werklik, fisiek gesterf het en begrawe is. Johannes het dit self gesien en getuig daarvan. Jesus het ook in ons plek die dood in gegaan.
Mense beantwoord God se liefde met wrede ongenaakbare haat. Jesus wat net goed gedoen het, word so sleg behandel. Die mens se selfsug, afguns en haat eis die grootse offer van God.
Dalk maak ons Jesus ook soms spreekwoordelik dood in ons eie lewe? God kom na ons toe in liefde en ons antwoord met selfsug en haat. God doen aan ons goed en ons doen sleg aan Hom en ander mense. Ja, ons is nie onskuldig nie. Hierdie wreedheid is deel van elke mens op aarde se aard. Elkeen van ons kan sonder God se Gees ook hierdie wreedheid vertoon.
Kom ons bid weer dat God ons harte sal vul met liefde en genade, soos wat God aan ons bewys het. Kom ons besef weer hoe groot God se liefde vir ons is, dat Hy bereid was om alles op te offer om ons te red. Kom ons gaan leef weer dankbaar hierdie liefde uit teenoor elkeen wat oor ons pad kom.
Gebed: Here, vergewe my tog dat ek so baie keer u groot liefde beantwoord met ondankbaarheid, selfsug en selfs haat. Vergewe my dat ek so ongenadig teenoor ander mense kan optree, terwyl U met soveel genade teenoor my opgetree het deur Jesus Christus. Gee tog aan my ‘n sagte hart en diensbare hande, sodat ek U met dankbaarheid sal dien. Amen