Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vrede vir julle - 28 Augustus 2014

Stephan Hoffman

 

Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”  Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Johannes 20:19-21

Die vroue en dissipels het vroeg die oggend gesien dat die graf leeg is. Jesus het aan Maria verskyn, maar die dissipels het hom nog nie gesien nie. Die dissipels is die aand bymekaar. Hulle is bang vir die Jode en sluit al die deure. Jesus kom staan egter tussen hulle. Hy is nie gebonde aan ruimte en tyd nie.

Jesus se woorde: “Vrede vir julle!” is vir die eerste keer in die geskiedenis sedert die sondeval, volkome waar. Ware vrede is bewerk tussen God en mens. Die gebroke verhouding is herstel deur Jesus Christus. Elke sondaar kan in geloof nou na God toe gaan en volkome vergifnis ontvang.

Jesus wys sy hande en sy sy vir die dissipels, sodat hulle kan sien dat dit werklik Hyself is wat opgestaan het. Dit is Jesus wat gekruisig is en begrawe is, wat nou lewend hier voor hulle staan. Jesus stuur sy dissipels na die wêreld toe soos wat die Vader Hom gestuur het.

Hierdie bang dissipels sou later deur die werking van die Gees, met groot waagmoed en krag verkondig dat Jesus die opgestane Heer is. Hulle sou uitgaan in die wêreld en die goeie nuus dat Jesus lewe met almal deel, selfs as hulle daaroor verwerp, verneder of doodgemaak sou word.

Kan jy raaksien dat die lewende Here Jesus Christus ook by jou is? Hy het opgestaan, het die grense van die wêreld en selfs die grense van die dood oorwin. Hy het vrede kom maak tussen jou en God. Hy lewe en jy sal ook saam met Hom lewe tot in ewigheid!

Gebed: Here, dankie dat U nou hier by my is. Dankie dat U leef en dat ek ook saam met U sal lewe tot in ewigheid. Lei en sterk my tog deur die werking van u Gees, dat ek nie bang sal wees nie, maar met vrymoedigheid die goeie nuus van u opstanding met almal sal deel! Amen

Previous article: Het jy Jesus lief? - 29 Augustus 2014 Prev Next article: Sy groot liefde - 27 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.