Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Het jy Jesus lief? - 29 Augustus 2014

Stephan Hoffman

Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.  Johannes 21:17

Om saam met iemand te eet, was baie belangrik in die tyd waarin Jesus op aarde geleef het. Om saam te eet het gedui op gemeenskap met mekaar. Mense wat in ‘n goeie verhouding met mekaar staan, het saam geëet. Jesus maak ‘n punt daarvan om saam met sondaars en tollenaars te eet en op hierdie wyse iets van God se genadige gesindheid te toon. Voor die kruisiging eet Jesus ook vir oulaas die paasmaal saam met die dissipels.

Na die opstanding eet Jesus weer saam met sy dissipels. Hy tree weereens op as die meester van die maaltyd deur die brood te breek. Jesus toon hiermee dat sy verhouding met die dissipels weer herstel is. Al het hulle Hom in die steek gelaat en weggehardloop toe Hy in die nood was, kom leef Hy weer in gemeenskap met hulle.

Selfs Petrus wat Hom drie maal verloën het, kry die geleentheid om weer drie maal sy trou en liefde te beloof, al verstaan hy dalk nie self wat hier gebeur nie. Petrus kry die opdrag om die kudde van die Here op te pas en te versorg, dit is die manier waarop hy sy liefde vir Jesus kan toon.

Ons val en struikel almal soms, maar God het deur Jesus Christus die verhouding met ons kom herstel. God wil in gemeenskap met ons leef. Hy wil deel wees van ons ganse lewe, daar waar ons werk, speel of eet. God se liefde wat die grense tussen ons en Hom oorbrug, maak dit vir ons moontlik om ook in liefde te antwoord.

Ons kan ook ons liefde teenoor die Here toon, deur vir ander mense goed te wees, hulle op te pas en te versorg.

Gebed: Almagtige God, ons dank U dat U deur Jesus Christus weer in gemeenskap met ons wil lewe. Dankie Here dat U ons nie oorlaat aan onsself nie, maar dat u liefde die grense tussen ons en U oorbrug het. Help ons om met dankbaarheid te antwoord op u genade en U ook terug lief te hê met ons hele hart, verstand en al ons kragte. Gee dat ons u liefde sal uitleef teenoor ander mense.  Amen

Previous article: Hy staan in 'n verhouding met God (1) - 1 September 2014 Prev Next article: Vrede vir julle - 28 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.