Hy staan in 'n verhouding met God (1) - 1 September 2014
Miskien is jy een van die duisende mans wat gereeld vers-'n-dag ontvang. Dan is hierdie maand se dagstukkies veral vir jou. Die dagstukkies is gebaseer op 'n publikasie van die Bybelgenootskap "Ek is Hy".
Ons wil jou uitnooi om saam met ons deur die Bybel te blaai en die verhale van 'n paar spesiale manne te ontdek. Regdeur die Bybel speel mans ’n belangrike rol. Sommige het in ’n verhouding met God gestaan, terwyl ander weer hul rug op Hom gekeer het. Soms het hulle ook met God geworstel. Hulle was egter almal unieke mense met verskillende gawes en elk met sy eie besondere lewensomstandighede. Tog het God met elkeen ’n pad gestap. In hierdie gedeeltes van die Woord ontdek jy dalk ook: Dis ék daardie! Ek is hý! En God stap ook ’n pad met mý.
Die Skrifgedeeltes in hierdie dagstukkies lig verskillende dimensies van manwees uit wat steeds geldig is vir die man van vandag. Ons gebed is dat dit jou sal help om die werklikheid waarmee jy as moderne man te kampe het, beter te verstaan. Die Bybel ontken nie dat die werklikheid soms negatief is en dat die man in die Bybel dikwels voete van klei het nie. Jy kan egter daarvan seker wees dat jy in die Skrif hoop kan vind vir elke situasie waarin jy jou bevind. Jy kan koers kry as jy verdwaal het. Jy kan opgetel en vertroos word as jy geval en seergekry het. Die Bybel daag jou uit om van nuuts af weer te begin om jou taak en opdrag as ’n gelowige man ten volle uit te leef.
Hierdie stukkies is egter ook vir ons vroulike lesers. In die lig van die Bybel, kom leer ken die gelowige mans in jou lewe nog beter.
Kom ons spring weg en kyk wat sê die Bybel oor hierdie man se verhouding met God. Die heel belangrikste dimensie van ware manwees is om in verhouding met God te staan. Hy is nie bang om te bely dat hy sy Skepper nodig het nie. As man van God het hy Hom baie lief en staan Hy altyd sentraal in sy lewe.
Eerstens leer ons dat sy lewe radikaal verander ná 'n ontmoeting met Jesus.
Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was ’n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ’n ryk man. Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in ’n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!” Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Lukas 19:1-10
Kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Hemelse Vader dankie dat deur my ontmoeting met u Seun my lewe verander het. Help my om U altyd sentraal in my lewe te hou. Dankie vir u liefde. Amen