Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy staan in 'n verhouding met God (2) - 2 September 2014

Gister het ons geleer dat die belangrikste dimensie van ware manwees sy verhouding met God is. Vir die volgende twee dae gaan ons dieper kyk na hierdie dimensie van manwees.

Om sy verhouding met God te versterk delf hy in die Woord.  Saam met die psalmdigter besing hy sy liefde vir die Woord van God.  Lees gerus Psalm 119:97-113

Hoe lief het ek u wet!

Dit bly my elke oomblik by.

U gebooie gee my meer insig

as wat my vyande het,

en is altyd by my ...

By Daniël van ouds leer hy om met oorgawe te bid. Daniël het gereeld bly bid ten spyte van ’n wet wat uitgevaardig is om aanbidding van enigiemand behalwe die koning te verbied.

Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.  Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. Daniël 6:11-12

Uit die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus en die optrede van Josef leer ons dat 'n man wat in 'n verhouding met God staan hom aan God se wil vir sy lewe onderwerp.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.  Matteus 18-21,24-25

'n Man wat in verhouding met God staan, wy sy lewe aan die Here.  Hebreërs 11:5 vertel ons van Henog: Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou.

En kan jy sê: Ek is hy?

Gebed: Here help my om U daagliks deur u Woord beter te leer ken en om U te prys en te aanbid. Gee dat ek my elke dag aan u wil vir my lewe sal onderwerp en help my om, soos Henog, te leef soos U dit wil. Amen

Previous article: Hy staan in 'n verhouding met God (3) - 3 September 2014 Prev Next article: Hy staan in 'n verhouding met God (1) - 1 September 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.