Hy staan in 'n verhouding met God (3) - 3 September 2014
Ons man wat in 'n verhouding met God staan, is egter baie menslik en hy verstaan nie altyd God se handelinge nie. Hy is ook nie alleen nie. Gideon in die Bybel was so 'n man.
Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.” Rigters 6:12-13
Maar ten spyte van teëspoed weet hy dat hy steeds by God om krag moet soek. Die profeet Habakuk skryf: Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Habakuk 3:19
En soms twyfel hy en is kleingelowig soos die dissipel Tomas wat gesukkel het om te glo dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het. Lees gerus Johannes 20:24-29.
Soos Petrus is die moderne man wat in 'n verhouding met God staan ook soms skaam om te sê dat hy Jesus ken. En op daardie oomblik het daar ’n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil. Lees die volledige verhaal in Matteus 26:69-75
En ja, soms struikel hy ... In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ’n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ’n vrou sien bad. Sy was ’n baie mooi vrou. Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.” Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe. Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.” 2 Samuel 11:1-5
Die verhaal in die Bybel vertel ons dat die profeet Natan na Dawid toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. In Psalm 51 lees ons hoe Dawid sy sonde teenoor die Here bely en toe vergifnis ontvang. God gee aan die man wat in 'n verhouding met Hom staan, 'n nuwe begin en hy kan weer blydskap ervaar.
Ontdek jy dalk ook: Dit is ek daardie! Ek is hy! Onthou God stap ook 'n pad met jou.
Gebed: Dankie Here dat ten spyte van my sonde ek na U kan kom om my skuld te bely. Dankie dat U vergifnis skenk. Vader, dankie vir die voorreg om deur u Seun in 'n verhouding met U te kan staan. Amen