Hy staan in verhouding met ander mense (1) - 4 September 2014
Ons weet nou dat die belangrikste dimensie van manwees is dat hy in 'n verhouding met God staan. Hy leef egter nie in isolasie nie. Hy leef tussen en saam met ander mense. Elke verhouding waarin hy staan, is uniek en stel spesifieke eise aan hom. Oor die volgende paar dae gaan ons kyk na wat die Bybel sê oor van hierdie verhoudings waarin hierdie man wat in 'n verhouding met God staan, hom bevind.
Eerstens is hy ’n man vir sy vrou. Hy en sy vrou is gelyke vennote.
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” Genesis 2:18-24.
Reeds in die verhale van Isak en Jakob leer ons dat die man sy vrou moet liefhê. Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood. Genesis 24:67
Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos ’n paar dae, want hy het haar liefgehad. Genesis 29:20
In die boek Hooglied besing Salomo die liefdesverhouding tussen man en vrou. Sy vrou is vir hom die mooiste vrou (Hooglied 2:2), hy bewonder en komplimenteer haar (Hooglied 1:15) en hy geniet intimiteit met sy vrou. (Hooglied 7:6-8a).
In die Nuwe Testament gee Paulus raad oor die huwelik. Hy beklemtoon dat weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man en dat die man en sy vrou mekaar se seksuele behoeftes moet vervul. Lees 1 Korintiërs 7:2-5
Christus se selfopofferende liefde en trou aan sy kerk is vir hierdie man wat 'n kind van God is ’n voorbeeld wat hy in sy huwelik nastreef. Hy is getrou aan sy vrou.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Efesiërs 5:25
Ongelukkig is alles in hierdie lewe nog nie volmaak nie en miskien is hy geskei. Alhoewel verskillende dinge mense van mekaar kan skei, is daar niks wat ons van God se liefde kan skei nie:
Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Romeine 8:33-35a
Kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Here, ek dank U vir my lewensmaat. Gee dat ek nooit hierdie verhouding sommer as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Help my om haar elke dag te behandel soos u Woord my leer. Amen