Hy staan in 'n verhouding met ander mense (3) - 8 September 2014
In ons vorige stukkie het ons gekyk na die die gelowige pa se verhouding met sy kinders. Hy stap voor om te verseker dat hy en sy gesin die Here dien. Hy leer sy kinders om op God te vertrou en om gehoorsaam te wees.
Daar is egter nog 'n aantal bybelse lesse waarna ons kan kyk om meer te leer oor die gelowige pa se verhouding met sy kinders. Soos die Here ons met al ons sonde aanvaar, aanvaar hierdie pa ook sy kinders vir wie hulle is
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. Kolossense 3:21
Al doen sy kinders verkeerd en maak dit diep seer, bly hy lief vir hulle Kom ons leer van koning Dawid. Uit wraaksug het Absalom sy halfbroer Amnon vermoor. Koning Dawid, hulle pa, was platgeslaan toe hy dit hoor.
Terwyl hulle nog op pad terug was, het die volgende gerug Dawid bereik: “Absalom het al die koningseuns doodgemaak. Daar het nie ’n enkele oorgebly nie.” Die koning het van sy troon afgeklim, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy onderdane het ook hulle klere geskeur en by hom kom staan. Maar Jonadab seun van Dawid se broer Samma het gesê: “U moet tog nie dink hulle het al die jongmanne, die koning se seuns, doodgemaak nie. Net Amnon is dood. Waarlik, daar was moord in Absalom se oë vandat Amnon sy suster Tamar onteer het. “Die koning moet nou nie die gerug dat al sy seuns dood is, ernstig opneem nie: net Amnon is dood.” Absalom het weggevlug.2 Samuel 13:30-34a
Ten spyte van die hartseer wat sy seun Absalom hom aangedoen het, was Dawid steeds lief vir hom. Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.” Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het. 2 Samuel 18:5
Soos die priester Eli, faal ons soms in die opvoeding van ons kinders. Eli se seuns het hulle posisie as priesters op verskeie maniere vir eie gewin misbruik. Al hulle pa se vermanings het op dowe ore geval. Lees gerus die verhaal in 1 Samuel 2:22-25a.
Miskien voel jy vandag dat jy jou kinders gefaal het. Jy kan egter daarvan seker wees dat by God is daar vergifnis. Die Bybel daag jou uit om van nuuts af weer te begin om jou taak en opdrag as ’n gelowige pa ten volle uit te leef.
Gebed: Hemelse Vader, gee my asseblief die krag om elke dag my liefde vir my kinders teenoor hulle uit te leef. Dankie dat u Gees wat in my woon my hierin sal lei. Amen