Hy staan in 'n verhouding met ander mense (4) - 9 September 2014
Ons gelowige man is egter nie net 'n man vir sy vrou of 'n pa vir sy kinders nie, hy staan in verskeie ander verhoudings met mense.
Miskien is hy ’n skoonpa wat belangstel in die lewe van sy skoonseun en soms, soos Moses se skoonpa Jetro, gee hy vir sy skoonseun goeie raad.
“Luister nou na my raad en mag God jou bystaan! Jy moet die volk se verteenwoordiger by God wees en alle sake voor Hom bring.” Eksodus 18:19
Tog besef hy hoe belangrik dit is om sy skoonseun toe te laat om sy eie lewe te lei. Hy het ’n goeie verhouding met hom.
Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.” Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.” Eksodus 4:18
Miskien is hy 'n skoonseun. 'n Gelowige man respekteer sy skoonpa en het ’n goeie verhouding met hom. Lees gerus in Eksodus 18:5-11 hoe Moses sy skoonpa behandel het.
Die gelowige man staan ook in 'n verhouding met sy vriende. Hy is ’n getroue vriend.
Op ’n vriend se liefde kan jy
altyd reken;
jou broer is daar
met die oog op jou nood. Spreuke 17:17
Soos Job bid hy vir sy vriende (Job 42:7-10) en hy het 'n positiewe invloed op sy vriende .
Yster slyp yster
Vriende vorm mekaar. Spreuke 27:17
Ontdek jy jouself? Kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Dankie Here dat ek nie op my eie al hierdie verhoudings hoef te hanteer nie, maar dat u Heilige Gees my elke dag lei. Maak my sensitief vir die stem van u Gees en help my om die mense in my lewe te behandel soos U dit wil. Amen