Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy staan in verhouding met homself (1) - 10 September 2014

Die man wat in 'n verhouding met God staan, staan ook in 'n verhouding met homself. Hy leer homself ken. Hy is elke dag bewus van sy fisieke sowel as sy geestelike behoeftes. Hy besef dat God in sy totale menswees belangstel.

Hy besef dat hy as beeld van God geskep is.

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.  Genesis 1:27

Hy weet dat hy 'n beelddraer van God is en hy streef daarna om God se beeld uit te dra. Daarom is die woorde van Paulus aan die Kolossense vir hom baie belangrik.

Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.  Kolossense 3:7-10

Hy besef dat sy liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is en gebruik dit tot eer van God. Daarom pas hy sy liggaam op.

Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.  1 Korintiërs 6:18-20

Hy weet dat hy spesiaal is vir God en daarom plaas hy sy vertroue in God.

Luister, so sê die Here

wat jou geskep het, Jakob,

wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,

Ek het jou op jou naam geroep,

jy is Myne.  Jesaja 43:1-3a

Soos ons gelowige man, besef jy dat jy na die beeld van God geskep is en streef jy om die beeld van God uit te dra? Pas jy jou liggaam op en weet jy dat jy spesiaal vir God is? Kan jy sê: Ek is hy?

Gebed: Here Jesus dankie dat U my ken, dat U my verlos het en dat ek aan U behoort. Help my om elke dag as 'n beelddraer van God te leef. Amen

Previous article: Hy staan in verhouding met homself (2) - 11 September 2014 Prev Next article: Hy staan in 'n verhouding met ander mense (4) - 9 September 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.