Hy het gevoelens (1) - 12 September 2014
Al is hy ’n man, het hy ook emosies. Emosies is onlosmaaklik deel van sy manwees. Hy beleef die vreugde van die lewe intens. Hy ervaar egter soms ook negatiewe emosies soos hartseer, neerslagtigheid of minderwaardigheid.
Die Woord van God is vir hom baie kosbaar. God se Woord ontroer hom.
Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet. Nehemia 8:10
Die gelowige man se hart loop oor van lof. In Lukas 1:68-75 lees ons dat ná die wonderlike gebeurtenisse rondom die geboorte van Johannes die Doper, het sy pa Sagaria God geloof en gesê:
“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.”
Vind jy jou vreugde in die Woord van God en loop jou hart oor van lof?
Kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Here, nooit kan ek U genoeg loof en prys nie. Dankie dat U ook vir my gesterf het. Dankie vir u kosbare Woord en dat U deur u Woord met my praat en my wys hoe ek moet leef. Amen