Hy het gevoelens (3) - 16 September 2014
Soms gebeur daar dinge waaraan jy niks kan verander nie, soos die dood van ’n geliefde en jy voel so verskriklik weerloos. So is koning Dawid oorweldig deur droefheid toe hy die nuus van sy opstandige seun Absalom se dood ontvang. Ons lees hieroor in 2 Samuel 18:32-19:4:
“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.” Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.” Daar is aan Joab vertel: “Kan jy dit glo? Die koning huil en treur oor Absalom!”So het die oorwinningsdag ’n dag van trane geword vir al die manskappe, want hulle het gehoor dat die koning bedroef is oor sy seun. Op dié dag het die manskappe die stad binnegesluip, soos wanneer hulle beskaamd insluip as hulle uit ’n geveg weggehardloop het.Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: “My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!”
In Jesaja 38:1-6 lees ons van 'n koning wat werklik die pyn van swaarkry ervaar het. Ons lees egter ook dat die Here sy gebed verhoor het en sy lewe verleng het.
In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.” Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil. Die Here het toe vir Jesaja gesê: “Gaan sê vir Hiskia: So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm.”
Ons gelowige man voel soms bitter oor dinge wat met hom gebeur. Miskien voel jy ook soms so.
Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer. Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie. Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer. Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God. 1 Samuel 30:3-6
Let net op wat Dawid gedoen het toe almal verbitterd was. Hy het hulp gevra by die Here sy God. Dit is die antwoord vir elke man wat in 'n verhouding met God staan – ook vir jou.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek deur u Seun, Jesus Christus, my tot U kan wend. Dankie dat daar geen oomblik in my lewe is wat ek nie na U kan kom vir hulp nie. Amen