Hy werk (1) - 17 September 2014
Hierdie gelowige man is ’n man met baie verantwoordelikhede. Hy het verpligtinge by die werk én by die huis: Hy spandeer baie tyd en energie daaraan om sy loopbaan te bou en dan doen hy ook sy deel in en om die huis.
En jy ontdek: Ek is hy!
Die gelowige man besef dat God hom die opdrag gee om te werk.
Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis. Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Genesis 2:8-9,15
God dra dit ook aan hom op om na die skepping te kyk.
Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Genesis 1:28
Die gelowige man erken dat werk ’n voorreg is.
Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? Prediker 2:24-25
Die man wat in 'n verhouding met God staan weet ook dat God van hom verwag om hard te werk. Paulus maak dit baie duidelik in sy brief aan die gemeente in Tessalonika.
Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie. Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle ’n las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle ’n voorbeeld wees wat julle moet volg. Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien. 2 Tessalonisense 3:6-12
Gebed: Here, dankie vir die voorreg om te kan werk. Help my om u opdrag om te werk, na die beste van my vermoë uit te voer. Here, in hierdie dae dink ek ook aan hulle wat werkloos is, miskien nie deur hulle eie toedoen nie. Amen