Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy werk (2) - 18 September 2014

Dikwels is ons gelowige man se program uiters druk en hy moet leer om te delegeer.  Moses se program was ook baie besig. Sy skoonpa het vir hom goeie raad gegee wat vandag steeds van toepassing is.  Kyk wat sê die Bybel in Eksodus 18:13-26

Toe Moses die volgende dag gaan sit om hofsake te verhoor, het daar van die oggend af tot die aand toe mense vir hom gestaan en wag. Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?”

Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra. As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.”

Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie. Luister nou na my raad en mag God jou bystaan! Jy moet die volk se verteenwoordiger by God wees en alle sake voor Hom bring. Druk die volk die voorskrifte en wette op die hart, leer hulle die pad wat hulle moet loop en wat hulle moet doen. Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle moet deurentyd vir die volk hofsittings hou. Die belangrike sake moet na jóú verwys word, en die geringes moet húlle oplos. Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. As God jou beveel om dit so te doen, sal jy met die werk kan aanhou, en al hierdie mense sal dan tevrede huis toe gaan.”

Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het.

In sy werk het selfs Paulus spanning met kollegas ondervind.  Vandag is dit nie anders nie. Daar is dikwels spanning by die werk.

’n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.” Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met ’n skip na Siprus toe vertrek. Paulus het vir Silas gekies en vertrek, nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is.  Handelinge 15:36-40

Moet jy nog leer om te delegeer?  Moses het na sy skoonpa se raad geluister en hy kon suksesvol met sy werk voortgaan.  Miskien verskil jy met 'n kollega oor hoe 'n taak uitgevoer moet word.  Paulus en Barnabas het wel van mekaar geskei, maar op die ou end het beide gaan doen wat hulle oorspronklik wou doen en dit is om die gelowiges in die stede waar hulle die woord van die Here verkondig het, te gaan besoek.

Gebed:  Here Jesus, ek loof en dank U dat ek nie vandag op myself hoef staat te maak in die werkplek nie. Dankie vir die lesse wat ons uit u Woord leer, ook oor werk. Dankie dat U elke oomblik by my is. Amen

Previous article: Hy werk (3) - 19 September 2014 Prev Next article: Hy werk (1) - 17 September 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.