Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy werk (3) - 19 September 2014

Die gelowige man weet dat hy nie uit eie krag sukses behaal nie. Hy gee aan God al die eer vir sy sukses.  Nadat God die Israeliete droogvoets deur die Rietsee gelei en die Egiptiese weermag in die see vernietig het, het hulle Hom geprys.

Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing:

“Ek wil tot eer van die Here sing

omdat Hy hoog verhewe is.

Perd en strydwa

het Hy in die see geslinger.

Die Here is my krag

en my beskerming.

Hy het tot my redding gekom.

Hy is my God, Hom roem ek,

die God van my voorvaders,

Hom prys ek.

Die Here is oorwinnaar in die stryd,

sy Naam is ‘die Here’!”  Eksodus 15:1-3

Hy bly getrou aan God se beginsels.  Hy laat nie toe dat sukses na sy kop toe gaan nie. Wanneer versoeking aan sy deur kom klop, twyfel hy nie oor wat hom te doen staan nie - hy staan onwrikbaar by wat God van hom verwag.

Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas. Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld. Hy het alles aan Josef oorgelaat en hom aan niks gesteur nie, behalwe aan sy kos.

Josef was fris gebou en mooi. Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: “Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas. Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.  Genesis 39:3-10

Weet jy ook dat jy nie uit eie krag sukses behaal nie en bly jy getrou aan God se beginsels?  Staan jy ook by die werkplek onwrikbaar by wat God van jou verwag?

Gebed: Dankie dat U elke dag ook in die werkplek by my is. Help my om, deur u Gees, die beginsels van u Woord uit te leef en altyd te doen wat U van my verwag. Amen

Previous article: Hy maak 'n verskil (1) - 22 September 2014 Prev Next article: Hy werk (2) - 18 September 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.