Hy maak 'n verskil (1) - 22 September 2014
Die gelowige man is ’n man wat ’n bydrae in die samelewing wil lewer. Hy is nie bang om te waag nie. Hy laat sy stem hoor, en sodoende maak hy die wêreld ’n beter plek. Hy het God se roeping vir sy lewe ontdek en leef dit van harte uit.
Hy het die moed om iets tot voordeel van sy gemeenskap te doen. Nehemia is 'n voorbeeld van 'n man wat ter wille van sy gemeenskap die moed gehad het om met die koning te praat.
Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie, maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?” Ek was baie bang, maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?” Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het ’n skietgebed opgestuur na die God van die hemel en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?” Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Nehemia 2:1-6a
Ons gelowige man staan op vir dit wat reg is. Hy het ruggraat en is nie bang om standpunt in te neem nie, selfs teenoor sy meerderes. Al moet hy die opinies van ander teëgaan, bly hy steeds hoflik. Daniël, ’n banneling aan die hof van die Babiloniese koning, het by God se voorskrifte bly staan, selfs teen die koning se bevel in. Lees gerus Daniël 1:3-8.
Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om uit die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense. Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal. Die koning het bepaal dat hulle ’n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree. Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja, maar die hoofpaleisbeampte het vir hulle ander name gegee: Daniël is Beltsasar genoem, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego. Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie.
Het jy al God se roeping vir jou lewe ontdek? Kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Hemelse Vader, ek wil so graag 'n bydrae in my eie gemeenskap lewer en 'n verskil maak. Ek pleit by U om my te help om die nodige moed aan die dag te lê om selfs wanneer almal met my verskil, standpunt in te neem vir dit wat reg is. Amen