Hy maak 'n verskil (2) - 23 September 2014
Om 'n verskil te kan maak is dit nodig dat hierdie man bo onreg uitstyg. Hy is vergewensgesind. Lees gerus in Handelinge 7:54-60 die verhaal van Stefanus, die eerste Christenmartelaar. Hy is deur die Jode gestenig omdat hy onbevrees die evangelie bly verkondig het. Met sy laaste woorde het hy nog by God gepleit om vergifnis vir sy moordenaars.
Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by ’n jongman met die naam Saulus. Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe.
Ons gelowige man wat 'n verskil wil maak is nie iemand wat wraak wil neem nie. Koning Saul wou die jong Dawid sonder rede doodmaak. Op ’n dag het Dawid ’n gulde geleentheid gehad om van Saul ontslae te raak. Saul het alleen in ’n grot ingegaan. Vanuit sy wegkruipplek agter in die donker grot kon Dawid die niksvermoedende Saul maklik om die lewe bring. In plaas daarvan om hom op sy vyand te wreek, het hy egter ongemerk die punt van Saul se mantel afgesny om sodoende sy eie onskuld te bewys. Later het hy vir Saul hiermee gekonfronteer:
“Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang? U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as ’t ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem. Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie. Soos die spreekwoord van die voorgeslag lui:
‘Boosheid gaan uit van die
boosdoeners,’
“maar ek sal nie teen u wees nie. Agter wie aan het die koning van Israel opgetrek? Agter wie kom u aan? Agter ’n dooie hond aan; agter een enkele vlooi aan! Die Here sal regter wees en Hy sal regspreek tussen ons. Hy sal sorg en my saak behartig en aan my reg verskaf teenoor u.”
1 Samuel 24:10b-16
Maak jy 'n verskil in jou gemeenskap of loop jy rond met wraakgedagtes in jou hart? Volg die voorbeeld van Stefanus en koning Dawid. Wees vergewensgesind en maak 'n verskil.
Gebed: Here, ek moet bely dat dit nie altyd maklik is om mense te vergewe nie. Ek bid dat U deur u Heilige Gees vir my die nodige krag sal skenk om dit te kan doen. Help my om 'n verskil te maak in my gemeenskap. Amen