Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy is ’n geestelike leier - 25 September 2014

Hy is bereid om geestelik leiding te neem wanneer dit van hom verwag word. Hy is nie noodwendig ’n predikant nie, maar hy hoor as God hom roep om te getuig, om diegene wat in geestelike nood verkeer, te help, en om mense na Hom terug te lei. Hy luister na God en hy doen sy deel in die gemeente.

Die gelowige man is bereid om na vore te tree wanneer die Here hom roep.

Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot. Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om ’n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. “Maak vir jou ’n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak.”  Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.  Genesis 6:11-14,22

Die gelowige man moedig jonger mense aan om hulle geloof te behou.  Lees gerus in 1 Timoteus 1:1-2, 18-20 hoe Paulus die jongman Timoteus, bemoedig het.

Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. Hou vas aan die geloof en behou ’n goeie gewete.

Die gelowige man neem standpunt in oor geestelike sake. Die apostel Paulus het hom sterk uitgespreek teen die geveinsdheid van sommige gelowiges wat van die waarheid van die evangelie begin afdwaal het.  Lees Galasiërs 2:11-14.

Die gelowige man rus ander toe met die waarheid van die Evangelie. In Handelinge 18:24-26 lees ons dat Priscilla en Akwilla Apollos huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak het.

Soos Josua van ouds stel die gelowige man en sy gesin ’n goeie voorbeeld van toewyding aan God. Soos Joshua sê hy: "Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Lees Josua 24:14-15

Die gelowige man volg die Here end-uit.  Naby die einde van sy lewe kon die apostel Paulus skryf:

Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms. 2 Timoteus 4:6-8

Kan jy sê: Ek is hy?

Gebed: Here, maak my vandag en vir die res van my lewe sensitief vir u stem. Help my om gehoorsaam te wees wanneer U my roep om te getuig. Gee dat ek sal luister en my deel sal doen om u Woord uit te dra. Amen

Previous article: Hy kry soms swaar (1) - 26 September 2014 Prev Next article: Hy maak 'n verskil (2) - 23 September 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.