Hy kry soms swaar (1) - 26 September 2014
Hy beleef dat alles in die lewe nie altyd glad verloop nie. Hy kry seer as daar slegte dinge oor sy pad kom, soms as gevolg van sy eie verkeerde keuses. Maar daar is ook dinge waaroor hy geen beheer het nie en wat seermaak. Soms sukkel hy om homself los te maak van sy verlede, maar ander kere kry hy dit tog reg om met God oor sy swaarkry te praat en sy pyn te konfronteer. Dan besef hy dat hy, ten spyte van sy verlede, nuut kan begin.
Al dien hy God, gebeur daar soms slegte dinge met hom. Job is 'n voorbeeld van iemand wat alles verloor het, sy osse, donkies, slawe en selfs sy seuns en sy dogters. Lees Job 1:13-22.
Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:
“Sonder iets het ek
in die wêreld gekom
en sonder iets gaan ek daaruit.
Die Here het gegee
en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.
'n Gelowige man kan ook aan ’n ongeneeslike siekte ly. Ons ken die verhaal van Hiskia wat ernstig siek geowrd het (2 Konings 20:1). Hiskia het sy pyn na die Here toe geneem en dit is ook wat Christene moet doen.
Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.”
Hiskia het bitterlik gehuil. 2 Konings 20:2-3
Ons gelowige man kry soms swaar omdat sy kind die verkeerde keuses maak. Indien dit van jou waar is, weet net jy is nie alleen nie. Isak en Rebekka was baie ongelukkig oor die twee vroue waarmee hulle seun Esau getrou het.
Toe Esau veertig was, het hy getrou met Jehudit dogter van Beëri, ’n Hetiet, en met Basemat dogter van Elon, ’n Hetiet. Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring.Genesis 26:34-35
Ons ken die verhaal van Moses wat 'n Egiptenaar doodgeslaan het. Soos Moses het baie van ons 'n verlede wat by ons spook. Lees Moses se verhaal in Eksodus 2:13-15
Ontdek jy jouself in sommige van hierdie karakters uit die Bybel? Kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir hierdie les dat wat ook al gebeur, ek my na U kan wend. Dankie dat ek al my swaarkry en pyn na U kan bring met die wete dat U luister en ek dit nie alleen hoef te dra nie. Amen