God bewys God self - 4 November 2014
Danny Fourie
In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. Hebreërs 1:1-2a
Met die aanbreek van die somer raak die miere meer aktief. Skielik was daar in my huis op verskillende plekke miere wat in lang toue loop. Ook in my koskas. Dit wat ek kon, het ek in plastiekhouers gesit, maar die miere het nie verdwyn nie. Einde ten laaste het ek die koskas uitgepak, gewas en om die deure van die kas gespuit. Ek wou dit nie graag doen nie, maar hoe sê ek vir die miere dat hulle nie in my koskas welkom is nie?
'n Mens wens jy kan op 'n ander manier met die miere werk. Hulle vertel dat jy hulle vriend is en dat jy hulle graag wil help. Jy gaan lank wag totdat 'n mier na jou opkyk en vir die ander gaan vertel dat hy kan bewys dat jy bestaan. Dit gaan nooit gebeur nie. As die miere nie na jou wil kom nie, sal jy maar na hulle toe moet gaan. Jy sal 'n mier moet word en dan kan jy in hulle taal jou bestaan en boodskap oordra.
Dit is presies wat God met ons as mense gedoen het. God het self 'n mens geword en Hom aan ons bekend gemaak. Die geleerde woord is “openbaar”. God onthul Homself.
Ons bewys dus nie God nie. God bewys Homself – in die natuur, in die Bybel en veral in Jesus Christus. Wanneer 'n mens goed na Jesus kyk, kan jy sien wie God is. Soos wat 'n mens 'n skilder deur sy skilderye leer ken, so leer ken 'n mens God deur Jesus Christus. (Johannes 14:9)
Gebed: Dankie Here God dat U mens geword het, soos een van ons, sodat ons u bestaan en boodskap kon leer ken. Amen.