God soek ons op - 5 November 2014
Danny Fourie
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1:14
Ken jy die gevoel om tot jou ore toe verlief te wees? Bedags het jy vlinders in jou maag, saans kan jy nie slaap nie en uiteindelik droom jy heelnag van haar. In die begin het jy wel 'n probleem: jy weet nie of sy weet jy is op haar verlief nie. Jy is ook onseker of sy op jóú verlief is. Hoe nou?
Daar is 'n paar tydlose wenke. Skryf 'n brief, bel of neem 'n bos blomme. Maar wat gebeur as sy nie die brief kry nie, haar selfoon altyd beset is en die blomme nie by haar uitkom nie? 'n Paar weke later hoor sy dat jy so gaande oor haar was. En weet jy wat sou sy toe gesê het: “Ag, ek was nie bewus daarvan nie. Het hy maar geskryf, of gebel of na my toe gekom!”
Hier is 'n ooreenkoms met God. God hou van jou. Hy wil 'n verhouding met jou hê. Daarom het God gedink: “Laat Ek skryf.” En Hy het 'n hele dik Bybel geskryf waarin Hy sê dat Hy 'n Vriend vir jou wil wees. Maar ons is meer geïnteresseerd in ander lektuur. Toe dink God: “Laat ek bel.” Elke Sondag is daar iewers 'n prediker wat van God vertel. Maar jou gedagtes dwaal sodat jy niks hoor nie.
Totdat God besluit het om maar Self te kom. Nie met 'n bos rose nie, maar deur sy Seun Jesus Christus. Van sy kant af doen God alles. Hy skryf, bel en kom Self. Ek hoop jy lees sy brief en oordink dit. En wanneer Hy bel, dat jy al biddend terugpraat. En dat jy die deur van jou lewe vir Hom oopmaak sodat daar 'n pragtige verhouding tussen julle kan groei.
Gebed: Dankie Vader, dat U ons kom soek het. Ook vir my. Help my om U elke dag te ervaar en my lewe vir U oop te maak. Amen.