Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Stry die goeie stryd - 9 Maart 2015

Stephan Hoffman

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.  Filippense 2:6-11

Vir volledigheidshalwe lees gerus Filippense 1:27-2:11.

Paulus en die gemeente van Filippi het die Grieks-Romeinse samelewing goed geken. Inteendeel ons lees in Handelinge 16 dat Paulus self ook ‘n Romeinse Burger was. Hulle het ook die Romeinse militêre mag en soldate goed geken. Omdat Filippi so strategies geleë was as deurgang na die res van Masedonië toe, was daar ‘n sterk verteenwoordiging van Romeinse soldate. Paulus gebruik nou die metafoor van die oorlog en stryd wat die soldaat stry as beeld vir die stryd wat die gelowige elke dag moet stry.

Net soos ‘n soldaat waardig en eensgesind moes optree aan die Romeinse kultuur, moet die Christen waardig optree aan die evangelie en eensgesind vasstaan (στήκετε). Hulle moet hulle nie laat afskrik deur hulle teëstanders nie, maar saam stry vir die geloof. Die motivering vir hulle stryd is nie selfsug of eie belange soos in die geval van ‘n oorlog of stryd tussen volke en mense nie, maar eerder die troos, aanmoediging, liefde, gemeenskap en ontferming in Christus en deur die Heilige Gees.

Hierdie liefde van God bind hulle ook saam as ‘n eenheid waar elkeen nie net individualisties aan sy of haar eie belang dink nie, maar aan die van ander. In hierdie stryd wat eerstens teen jou eie selfsug is, ag jy ander mense hoër as jouself. Paulus vat dit saam deur te sê dat ons dieselfde gesindheid moet openbaar as wat in Christus Jesus was.

U kan gerus Filippense 2:6-11 weer gaan lees. Hierdie is ‘n pragtige lied waarin Paulus die wonder uitjubel dat Jesus Christus mens geword het, homself verneder het en in ons plek kom ly en sterf het. Jesus het die goeie stryd voluit gestry en oorwin, sodat ons ook kan deel in sy oorwinning en kan getuig: “Jesus Christus is die Here!”

Wil jy nie vandag weer die wapens van troos, liefde, bemoediging en nederigheid opneem en die goeie stryd gaan stry nie? Daar is soveel aanvalle van binne, deur selfsug en eie belang, maar ook van buite. Ons kan die stryd stry met die wete dat ons klaar oorwin het in Christus!

Gebed: Almagtige God, baie dankie dat U die goeie stryd teen die selfsug, sonde en dood klaar oorwin het deur Jesus Christus. Help my tog om deur die krag van u Heilige Gees ook vandag die stryd teen my eie belange en selfsug te stry. Maak my asseblief ‘n goeie soldaat wat eensgesind vas staan en verkondig dat Jesus Christus die Here is.  Amen

Previous article: Ligdraers in die wêreld - 10 Maart 2015 Prev Next article: Verheerlik Hom deur jou liggaam - 6 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.