Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ligdraers in die wêreld - 10 Maart 2015

Stephan Hoffman

My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. Julle geloof is 'n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.  Filippense 2:12-18

God het goed gedoen aan ons. Jesus Christus het Homself verneder en ons verlos en die Heilige Gees help ons om te getuig van Jesus se heerskappy.

Paulus weet dat die gemeente in Filippi goed verstaan hoeveel genade hulle ontvang het. Nou doen hy ‘n dringende beroep op hulle, omdat hulle reeds verlos is moet hulle dankbaar reageer op God se genade. Hulle moet met groot eerbied en ontsag saamwerk en optree soos God dit goed vind. Hulle moenie kla en teëpraat nie, maar eerder soos lig skyn in die duisternis.

Paulus noem die gelowiges wat so positief saamwerk ligte of sterre wat skyn. Jy kan ook daar waar jy vandag dalk in ‘n krom wêreld vol ontaarde mense leef, ‘n verskil maak. Jy kan ook die wonderlike lig van God se teenwoordigheid en liefde laat deurbreek deur jou in te span, vas te hou aan die Woord en saam te werk tot God se eer. Jy kan ‘n lig of ‘n ster wees wat skyn en aan ander hoop en troos gee, soos wat jy ontvang het in Christus.

Hierdie ingesteldheid en lewe lei tot ware vreugde. Paulus sê dat hy op die dag van Christus trots en bly sal wees as gelowiges so kan saamwerk en kan skyn in die donker. Vir Paulus sal dit wees soos om ‘n wedloop te voltooi en ‘n prys te wen. Dan het hy hom ook nie verniet ingespan nie.

Kom ons gaan probeer om vandag vir iemand wat dalk in die donker van hierdie lewe vasgevang is, iets van God se lig en liefde te laat skyn. Jy sal verseker ook ware vreugde ervaar en dit nie te vergeefs doen nie, want God wil jou gebruik om as sy kind te lewe!

Gebed: Here, ek is so dankbaar oor u liefde en genade in Jesus Christus. Dankie dat ek nou as u kind kan lewe te midde van hierdie gebroke wêreld. Help my om u liefde soos ‘n lig te laat skyn en hoop te bring aan ander wat vasgevang is in die duister.  Amen

Previous article: Bewys onselfsugtige liefde aan ander - 11 Maart 2015 Prev Next article: Stry die goeie stryd - 9 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.