Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Bewys onselfsugtige liefde aan ander - 11 Maart 2015

Stephan Hoffman

Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. Ontvang hom met oop arms as 'n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.  Filippense 2:25-30

Lees gerus Filippense 2:19-30

Paulus het groot waardering vir die omgee en versorging wat hy van die gemeente in Filippi ontvang het. Epafroditus is spesiaal gestuur om Paulus te ondersteun terwyl hy ‘n gevangene in die tronk is. Ongelukkig het hy self baie siek geword en soos Paulus sê: deur sy werk vir Christus na aan die dood gekom. Nou stuur Paulus hom terug met dankbaarheid en lof omdat God ook weer genesing geskenk het. Ons kan uit die verhoudingskaal en intieme woorde wat Paulus gebruik, iets aflei van die besondere band wat daar in die vroeë kerk tussen die gemeentelede bestaan het.

Hulle was besorg en bekommerd oor mekaar, hulle het mekaar met liefde versorg en bemoedig, hulle het mekaar se belange op die hart gedra en mekaar ondersteun. Hierdie soort ware en onselfsugtige liefde kan ‘n mens net vind tussen gelowiges wat aan God en aan mekaar verbonde is deur die verlossing in Christus en die werking van die Heilige Gees.

Elke mens smag na ware liefde, omgee en sorg in ons lewe. Elkeen van ons het ‘n behoefte aan mense wat ons waarlik onselfsugtig sal liefhê net soos ons is en sonder om iets terug te verwag. Jy kan deel wees van hierdie besondere gemeenskap van gelowiges wat oor die eeue heen bestaan. Jy kan vandag begin om vanuit die liefde wat God aan jou bewys het, dankbaar te reageer en in vreugde jou liefde met ander te deel. Begin sommer nou as jy klaar hierdie stukkie gelees het, gaan bewys jou liefde teenoor God deur teenoor iemand anders onselfsugtige liefde uit te leef. Ek is seker jy sal vandag iemand raakloop wat jou omgee, versorging, bemoediging en ondersteuning bitter nodig het.

Gebed:  O Heer, ek dank U vir u groot liefde en ontferming oor my in Jesus Christus. Help my om raak te sien wie my nodig het vandag. Lei my deur u Gees, sodat ek onselfsugtige liefde kan uitleef teenoor ander. Gee my tog ‘n hart vol omgee, hande wat versorg, woorde wat bemoedig en dade wat ondersteun, soos wat U aan my gedoen het. Amen

Previous article: Wees bly in die Here - 12 Maart 2015 Prev Next article: Ligdraers in die wêreld - 10 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.