Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wees bly in die Here - 12 Maart 2015

Stephan Hoffman

Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.  Filippense 3:1

Lees Filippense 3:1-11

Om bly te wees in die Here is ‘n ander soort blydskap as wat jy in die wêreld sal vind. Jy kan dalk kortstondige vreugde uit geld, mag of plesier put, maar dit is vlietend en binnekort sal die opwelling van emosie weer plek maak vir ‘n soort onversadigbare leegheid.

Die blydskap waarvan Paulus praat is nie afhanklik van voorspoed of sukses nie. Dit is nie eers afhanklik van basiese behoeftes soos kos, klere, skuiling of vryheid nie. Hierdie vreugde put uit die onuitputlike bron van hoop, troos en liefde wat daar in Christus is. Al wat nodig is om dit te ervaar, is om volkome op Jesus Christus te vertrou en nie op aardse dinge staat te maak nie.

Paulus dui baie duidelik aan dat al die aardse roem en eer nie opweeg teen die voorreg om Jesus Christus te kan ken nie. Die Joodse besnydenis en wetsonderhouding, al die ywer beteken absoluut niks in die lig van God se genade deur Jesus Christus nie. Paulus gebruik ‘n baie sterk woord om te sê dat hy alles beskou as vullis, gemors, afval en waardeloos in vergelyking met Jesus Christus.

Om die krag van Christus se opstanding te ervaar oortref alles in waarde. Hierdie wete; dat jy verlos is deur Jesus Christus, dat jy saam met Hom gesterf het en dat jy verseker saam met Hom sal lewe, is so sterk dat alles in vergelyking daarmee vervaag en nietig raak.

Ons kan ook die ware onuitputlike blydskap ervaar waarvan Paulus praat. Dit is die tipe blydskap wat ek al soveel keer in die oë van ‘n gelowige gesien het, selfs wanneer hulle op ‘n sterfbed lê. Dit is die tipe vreugde wat ‘n gelowige langs ‘n graf laat omdraai en laat getuig dat daar hoop en troos en vrede is te midde van die pyn en hartseer. Dit is die soort vreugde waarmee Christen martelare op brandstapels lofliedere gesing het terwyl hulle brand. Dit is die soort vreugde wat niks en niemand by jou kan steel of wegneem nie. Mag jy vandag hierdie ware blydskap beleef!

Gebed: Liewe Here, ek is so dankbaar en bly oor die voorreg om U te kan ken. Dankie dat ek vandag vanuit die krag van u opstanding kan gaan lewe. Dankie vir u blydskap wat deur die werking van u Heilige Gees ook opborrel in my lewe. Dankie dat U die bron is van my vreugde.  Amen

Previous article: Hou koers - 13 Maart 2015 Prev Next article: Bewys onselfsugtige liefde aan ander - 11 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.