Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 30 September

HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS


DAG 18: BEDEK JOU GESIN MET GEBED

Deur Benescke Janse van Rensburg

Wanneer laas het jy vir die beskerming van jou verhoudings gebid? Besef jy dat jy sonder gebede ’n oop teiken vir die vyand word? Hy wag om jou aan te val.

Ek hoor onlangs die storie van die Lockheed-lugmagbasis buite Los Angeles in Amerika. In die jare veertig het die Lockheed-maatskappy van die wêreld se voorste vegvliegtuie by hierdie basis vervaardig. Dit was ’n multimiljoen-dollar onderneming met die voorste tegnologie van daardie tyd.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse weermag besluit om hierdie basis as die lanseerplek vir verskeie van hul operasies te gebruik. Dít het egter die basis ’n warm teiken vir die vyand gemaak.

Weens gerugte dat die Japanese ’n aanval beplan, het die gemeenskap om Lockheed in vrees begin leef. Hulle het besef dat die vyand eerste vir die basis sou kom en dat hulle daaronder sou lei. Die Amerikaanse weermag bedink toe ’n interessante, kreatiewe oplossing. Met die gemeenskap se hulp het hulle binne dae bruin nette bo-oor die basis en ook die dorpie gespan sodat dit vanuit die lug soos veld met plaashuise gelyk het. Met hierdie kamoefleernet kon die vyand die basis nie opspoor nie en duisende onskuldige mense het die aanval vrygespring. (Kyk foto’s van die basis voor en ná die kamoeflering by die skakel onderaan die stuk.)

Daagliks is die vyand op soek na maniere om ons verhoudings aan te val en te verwoes. Tog, wanneer ons bid, span God ’n kamoefleernet oor ons verhoudings om só heelwat aanvalle van die vyand af te weer.

In Job 1 lees ons dat Satan vir God kom toestemming vra om Job se geloof te toets. In vers 10 herken Satan dat hy Job nie kon aanval nie omdat God hom beskerm: “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?”

In Sagaria 2 voorspel God dat Jerusalem se beskermende stadsmure afgebreek gaan word, maar Hy gee ook ’n belofte in vers 5: “Die Here sê: Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

God se plan vir ons is om in harmonie met mekaar leef en die volle vreugde van gesonde verhoudings te ervaar. Ek moedig jou dus aan om daagliks vir God te vra om ’n muur van vuur rondom jou verhouding met jou huweliksmaat, jou kinders, jou vriende, jou skoonouers en jou kollegas te span. Mag jy só leef en na vrede streef dat dit vir God lekker is om jou van alle kante af te beskut sodat geen aanvalle van die bose sal slaag nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u beskerming daagliks oor my en my geliefdes. Ek wil U asseblief vra om ’n muur van vuur rondom elke verhouding in my lewe te span. Lei my deur U Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Foto’s van die Lockheed-lugmagbasis: http://www.youtube.com/watch?v=DgFJKtznKMo

** Sien ook STORIES VAN HOOP se bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.


NUUSBROKKIES:

  • Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:

o         Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of 042-2432080 of 0828755440.

  • Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.

TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 1 Oktober Prev Next article: Vers n dag - 29 September Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.