Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hou koers - 13 Maart 2015

Stephan Hoffman

Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.  Filippense 3:12-16

Christus het jou reeds syne gemaak. Jy behoort aan Hom. Dalk voel jy soms ontuis in die wêreld, dalk voel jy of jy nie werklik iewers inpas nie? Jy kan tuis voel by Jesus Christus, jy kan vertroosting vind in die wete dat jy kosbaar is vir God, so kosbaar dat Hy alles opgeoffer het om jou te red.

Wanneer ons dit besef kan ons ook soos Paulus sê dat ons daarna streef om dit alles ons s'n te maak. Jy kan die slegte dinge in jou lewe vergeet, jy kan dit laat sterf, laat gaan en dit agter jou los. Jy kan jou uitstrek na die nuwe toekoms wat op jou wag. Paulus gebruik ‘n metafoor, hy sê hy jaag die doel of die teiken na om die prys te bekom. Hy leef totaal gefokus op sy roeping in Jesus Christus.

Ons kan maklik van koers af gaan in hierdie lewe. Soveel dinge kan jou aandag aftrek van wat werklik belangrik is. Dalk raak jy so besig met die basiese oorlewingstryd dat jy fokus verloor. Jy kan selfs so besig raak met werk in die kerk dat jy jou oog van Jesus Christus afhaal.

Kom ons maak ons ook weer los van die dinge wat ons terughou of van koers af trek en ons leef gefokus op ons roeping in Jesus Christus! Geestelike volwassenheid beteken juis dat ons anders sal dink oor die lewe. Ons laat ons nie stuur en lei deur ander mense, ideologieë of verwagtinge nie, nee ons fokus volkome op God se wil. Ons rig ons oë op die hemelse prys, ons kyk verby die uitdagings en probleme en sien God raak wat by die eindstreep vir ons wag en ons ervaar die aanmoediging deur die Heilige Gees wat ons voluit laat leef en laat koers hou.

Wil jy nie vandag weer gaan seker maak dat jou lewe op koers is nie? Dalk is dit belangriker dat jy vandag ‘n paar ander planne en afsprake kanselleer en die tyd gebruik om God se doel met jou lewe te ontdek?

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie dat ek aan U behoort in Christus Jesus. Help my asseblief om op U roeping, doel en wil vir my lewe te fokus. Sny my asseblief los van dinge wat my laat koers verloor. Dankie dat U my aanmoedig om voluit te lewe. Ek strek my uit na wat voor is en strewe na u wil. Amen

Previous article: Burgers van die hemel - 16 Maart 2015 Prev Next article: Wees bly in die Here - 12 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.