Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Burgers van die hemel - 16 Maart 2015

Stephan Hoffman

In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.  Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.  Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees. Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon. Filippense 3:16-4:1

Paulus streef daarna om ‘n navolger van Christus te wees. Hy moedig ook die medegelowiges aan om hierdie voorbeeld te volg en voluit te leef op die regte koers. Dit breek sy hart om te sien dat daar sommige is wat vyandig teenoor die kruis van Christus leef. Hy besef dat hulle uiteinde die lewe sonder Christus is en dat dit ware dood beteken. In die voorafgaande gedeelte het Paulus reeds lewe en dood herdefinieer. Jy kan biologies lewe, maar geestelik dood wees, of jy kan sterf en vir ewig saam met Christus lewe!

Die pad van navolging begin deur jou denke anders in te rig (Vergelyk ook Romeine 12). As jy net aardse dinge bedink, sal dit wees waarop jy ingestel is. Dan sal jou keuses, woorde en dade noodwendig na die aardse pad lei, maar as jou gedagtes op Christus gerig is, verander ook jou woorde en dade en begin jy ‘n ander pad stap.

Jou identiteit verander en jy word ‘n burger van die hemel. Ek wonder of ons nog aan onsself dink as deel van Jesus Christus se koninkryk? Jou vrese en bekommernisse maak plek vir die hoop en verwagting wat in Christus setel. Jou vertroue is nie meer in jouself, jou eie vermoë, geld, mag of selfs jou eie liggaam nie, nee jy maak staat op die krag van Jesus Christus.

Wanneer ons so begin dink oor die lewe en oor onsself, kan ons ook vasstaan in die Here. Geen uitdaging of aardse struikelblok kan vir ons te veel wees nie, want ons is nuwe mense in Christus Jesus.

Wil jy nie weer jou eie ingesteldheid gaan ondersoek nie? Kom ons maak seker dat ons denke, woorde en dade op Christus gerig is. Kom ons word navolgers van die Here, wat koersvas deur die lewe stap!

Gebed: Here, soveel keer het ek al my oë van U afgehaal en dan op die verkeerde paaie begin stap. Soveel keer het ek my eie kop gevolg en nie gevra na u wil nie. Soveel keer het my woorde en dade ander mense seer gemaak. Help my asseblief om die regte ingesteldheid te hê. Gee tog dat ek my denke en woord en dade op U sal rig. Lei my deur u Gees sodat ek U sal navolg en koersvas sal kan stap deur die lewe. Dankie dat U elke tree saam met my gee en my nooit sal verlaat nie. Amen

Previous article: Wees eensgesind - 17 Maart 2015 Prev Next article: Hou koers - 13 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.