Wees eensgesind - 17 Maart 2015
Stephan Hoffman
Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan. Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Filippense 4:2-5
Gelowiges kan ook soms van mekaar verskil. Ongelukkig lei hierdie verskille soms tot onenigheid en twis. Paulus voel dit nodig om twee vroue te vermaan tot eensgesindheid.
Wanneer mens ‘n groter perspektief het op die lewe en jou identiteit in Christus setel, behoort klein verskille ons nie uitmekaar te dryf nie. Inteendeel vra Paulus sy medewerker (letterlik “jukgenoot”) om hierdie vroue te help letterlik “saam te kompeteer” of te “ondersteun”. Gelowiges kan van mekaar verskil, maar nog eensgesind saamwerk tot eer van die Here.
Na hierdie vermaning herhaal Paulus weer die gedagte van verblyding in die Here. Hy beklemtoon dat ‘n gelowige altyd en onder alle omstandighede hierdie blydskap kan ervaar. Blydskap is nie net iets wat met jou gebeur nie, maar iets wat jy skep deur op Christus Jesus te fokus te midde van jou omstandighede.
Wanneer mense saam op Christus fokus en vir Hom lewe, vloei die welwillendheid wat God aan ons bewys het deur hulle na mekaar toe, dit vloei ook oor na almal toe wat oor hulle pad kom. Die groot geheim is om te onthou dat die Here naby is. Jesus Christus wag aste ware om elke hoek en draai vir jou, Hy staan by elke venster en deur, nee Hy is nog nader, Hy ken elke draai wat jou gedagtes maak, hy staan by die deur van jou hart. Ons moet ook onthou dat die Here naby is, dit troos ons aan die een kant en laat ons aan die ander kant versigtiger lewe. Meer simpatie, meer sensitiwiteit, mooier woorde, opbouende dade, dit is die welwillendheid wat vloei uit die wete dat die Here naby is.
Kom ons los ons kleinlike verskille en twis oor onbenullighede. Kom ons draai weer na Christus toe en ook na mekaar toe. Kom ons laat God se welwillendheid deur ons vloei. Kom ons leef en werk eensgesind in die Here tot die eer van sy Naam.
Gebed: Here Jesus, ek is so jammer dat ek soms tyd mors met onbenullige twis. Help my asseblief om te onthou dat U naby is. U ken my en ek kan niks vir U wegsteek nie. U verstaan ook my stryd en worstelling in die lewe. Help my asseblief om ander met dieselfde liefde en deernis te hanteer as wat U aan my bewys het. Amen