Moet oor niks besorg wees nie - 18 Maart 2015
Stephan Hoffman
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Filippense 4:6-7
Die sorge van die lewe kan ons soms so omsingel, dat ons moedeloos raak. Die ironie is dat ons onsself die meeste van die tyd oor dinge bekommer waaraan ons niks kan doen of verander nie. Ja, ons het ‘n verantwoordelikheid om te werk en te leef na die beste van ons vermoë, maar om bekommerd te wees oor dinge bring net stres en siekte mee, niks goeds nie.
Paulus leer ons om met daardie dinge wat ons so laat wakker lê in die nag of vir ons maagsere veroorsaak, na God toe te gaan. God weet mos presies wat jou omstandighede is, Hy ken jou uitdagings en hy weet van jou sonde. Jy kan gerus na Hom toe gaan en jou hart voor Hom uitstort. Jy kan enige tyd na God toe gaan in gebed en smeking. Jy kan met God praat oor jou nood, maar ook jou drome en vreugdes dankbaar met Hom deel.
Die wonderlike belofte is dat jy iets van die ware vrede wat alle begrip oortref sal ervaar. Wanneer jy eerlik jou hart voor God uitgehuil het, of opreg met jou behoeftes na Hom toe gegaan het, gebeur hierdie wonder dat jy bevry word van onnodige kommer. Met eens besef jy dat die wêreld nie op jou skouers rus nie, maar op God s'n. Dit is asof Jesus Christus se vrede wagstaan voor die deur van jou hart en die onnodige kommer uithou met sy liefde en sorg.
Kom ons gaan raak weer vir ‘n slag stil in God se teenwoordigheid. Wil jy nie vir jou vandag iewers ‘n geleentheid skep om eerlik en opreg jou hart voor God uit te stort nie? Jy is gewaarborg van ‘n soort vrede wat jy nêrens elders sal kry nie. Dit is die soort vrede waarna mense soek as hulle geld, mag of plesier najaag, maar dit is net by God self te kry.
Gebed: Liewe Here, baie dankie dat ek my hart voor U kan uitstort. U ken my omstandighede en my gedagtes. U weet van die dinge wat my so eet van binne af. Wil U nie asseblief kom wagstaan by die deur van my hart nie. Laat U wonderbaarlike vrede oor my gedagtes heers. Amen